CRADOCK Distrikslandbou-unie (CDL) het ’n suksesvolle jaar agter die rug met goeie reën oor die grootste gedeelte van die gebied, terwyl boere wes van die area nog steeds smag na verligting van ’n ernstige droogte.
So het Aldus Paul Collett, voorsitter van CDL gesê op die organisasie se jaareinde-vergadering op 27 Julie. Hy het boere bedank wat hul weg oopgesien het om hul mede-boere in nood met veevoer te help.
Volgens Collett het hulle gedurende die jaar ’n baie goeie verhouding met Middelburg se Boere-unie opgebou en die twee organisasies nou kan saamstaan in aangeleenthede in die Inxuba Yethemba munisipale (IYM) gebied.
Volgens die jaarverslag wat Collett gelewer het, is die verhouding tussen boere en die munisipaliteit op ’n baie lae vlak met geen samewerking nie en blyk dit dat IYM die insette van landbou totaal ignoreer.
“Dit is egter verblydend dat die verhoging van belasting vir die nuwe jaar net 5.3% teenoor verlede jaar se 10% is en dit lyk da-rem of ons insette in dié geval tog ’n indruk op IYM gemaak het,” het hy gesê.
Wat boerdery betref, het hy verskeie plus-punte uitgelig en onder meer gesê die Gariepdam wat vir twee weke oorgeloop het, is goeie nuus vir besproeiingsboere wat afhanklik is van water.
“’n Jaar het ook verbygegaan sonder oliebore op ons plase terwyl SMHART sekuri-teit, in ’n projek van CDL, die lewe van die landbougemeenskap aansienlik verbeter het, het Collett gesê.
Aan die negatiewe kant het hy die groot mate van besoedeling in die Groot Visrivier en die swak instandhouding van paaie in die distrik as iets wat buite beheer is, ge- noem.
Collett het gesê die nasionale minimum loon is op die horison. Volgens hom is dit ’n realiteit maar ook ’n geleentheid om goed gekwalifiseerde persone in diens te neem. “Is ’n arbeidsmag van hoë kwaliteit tog nie wat ons uiteindelik wil hê nie?” het hy ge-vra.
Paul Collett is eenparig as voorsitter van CDL herkies met Hilton Collett as onder voorsitter, Di van Straaten as sekretaris en Jan du Toit as addisionele lid.