Knipmesse se lemme is skerpgemaak en die spitbraaivure se kole is behoorlik gestook vir CHS-oudskoliere se jaarlikse Knipmesbraai wat onlangs gehou is.
Sowat 200 oudskoliere het opgedaag vir dié gesellige samesyn by die CHS Klubhuis waar agt skape op die spit gebraai is deur Wayne de Beer, Hilton Frost asook Neels Goosen en hulle seuns.
Volgens Charles Garth, ’n CHS-oudskolier, is goeie inkomste ook verdien deur ’n skenking-veiling wat tydens die Knipmesbraai gehou is.
Stollie Duvenage, voorsitter van die CHS-oudskoliere sê, “Die sukses van dié tipe geleenthede hang af van die gemeenskap se betrokkenheid en ondersteuning. Daarom bedank ons graag vir Lockeroom, BKB, Tams Hardeware, Dynamic Hardeware en Arms en Ammo vir hul ruim skenkings en ondersteuning wat bygedra het tot die sukses van die Knipmesbraai.”
CHS maak reg vir 50-jaar reünie
Cradock Hoërskool is ook besig om sy vere reg te skud vir die skool se 50-jaar reünie-naweek wat vanaf 3-8 Augustus gehou gaan word.
Dié naweek skop op Woensdag, 3 Augustus om 11:00 af met ‘n veeveiling by die skougronde.
‘n Duiweveiling sal die aand gehou word waarna ‘n Biefstukbraai in ‘n markiestent op die skoolgronde aangebied word.
Vrydag, 5 Augustus sal sport hoogty vier en die aand sal ’n gala-geleentheid vir genooide gaste gehou word sowel as ‘n musiekopskop by die Oud-skoliere Klubhuis.
Saterdag 6 Augustus word daar voortgegaan met sportaktiwiteite teen Hoërskool Gill vanaf Somerset-Oos, en ‘n spesiale ontbyt vir oud-skoliere word aangebied by Huis Rocklands.
‘n Spitbraai en musiek sal die aand by die markiestent by die skoolgronde gehou word sowel as ’n dinee by Victoria Manor.
Sondag, 7 Augustus word ’n spesiale diens by NGK Cradock- Noordgemeente om 09:30 gehou. Maandag, 8 Augustus sluit die reünie af met ’n 4-bal gholfuitdaging by Cradock Gholfklub.
- Vir meer inligting stuur ’n e-pos na admin@chsalumni.co.za
