CRADOCK se hospitium wat in 1997 met groot fanfare en baie verwagting ge-open is, is tans fi-nansieel op hul knieë en staar sluiting van hul deure in die gesig as fondse nie binnekort be-skikbaar gestel word nie.
Volgens Michelle Kokra, die bestuurder, het hulle net geld om die fasiliteit vir nog twee tot drie maande te bedryf. Sy sê skenkings van die departemente van gesondheid, maatskaplike ontwikkeling en selfs oorsese skenkers, het heeltemaal opgedroog. Die geld wat hulle ’n rukkie gelede van die Lotto ontvang het, was aan die einde van Februarie op en hulle mag eers weer oor ses maande by daardie deur aanklop.
Kokra het vertel dat hulle tans agt kanker- en 230 HIV- en teringpasiënte op hul boeke het, maar weens die geldnood kon hulle net ses van die tuisversorgers wat hulle voorheen gehad het, behou. Die stafverpleegster en berader se dienste moes reeds in 2016 afgelê word.
“Terwyl ons verlede jaar geld van Goldrush ontvang het, en nou ’n begunstigde is in ’n boedel, sal ons die deure nog net vir twee tot drie maande kan oophou,” het sy verduidelik.
Sy het bygevoeg dat dit uiters belangrik is vir mense om nie anti-retrovirale pille en dié teen die verspreiding van tering op ’n leë maag te drink nie, maar die kospakkies wat hulle gewoonlik uit die Lotto skenking kon uitdeel, is bykans ge-daan. “Ons verwys dan pasiënte na die hospitaal of kliniek, maar daar is voedsel ook maar skaars,” het sy bygevoeg.
Die personeel doen hul bes om fondse in te samel en het onlangs ’n kerrie-vetkoek-verkoping gehou, maar dit is maar ’n druppel in die emmer van wat nodig is.
Kokra sê hulle is dankbaar vir die Amy Bell-sentrum langs die hospitium wat tussen 60 en 70 kinders van Maandae tot Donderdae ’n maaltyd gee. Hulle het ook ’n kok, drie versorgers en ’n voertuig om die kinders aan te ry, maar onge-lukkig kan geen volwassenes hierby baat nie.
Kokra sê hulle is baie dankbaar vir die gratis hulp van dr. Stefan Schoeman wat kom help wanneer pasiënte ernstig siek is.
As die nodige fondse vir salarisse, water en ligte en telefoon nie binne die volgende drie maande inkom nie, sal die hospitium genoodsak wees om hul deure te sluit.