CRADOCK se water- en rioolprobleme is verlede naweek op die spits gedryf toe ’n inwoner ’n klag teen die Chris Hani-distriks-munisipaliteit (CHDM) en die departement van waterwese by die polisie aanhangig gemaak het.

Volgens Rika Featherstonehaugh, die klaer, was daar verlede naweek nie een van die rioolpompe in die dorp, Michausdal of Lingelihle wat gewerk het nie.

Sy het ook bevestig dat die rioolwerke tot stilstand gekom het weens herstelwerk wat nie betyds gedoen is nie.

Riool het Dinsdag, teen die koerant se saktyd, reeds vir sewe dae onophoudelik in die Groot Visrivier gestroom.

Die situasie word as ’n geweldige gesondheidsrisiko bestempel vir inwoners van die dorpsgebiede en plase wat langs die rivier geleë is.

Na verneem word kry Cookhouse al sy water uit die Visrivier.

Rou riool het nou al twee maal die afgelope week weens ’n verstopte pomp aan die onderkant van Barcelona-woonbuurt deur die huis van ’n vrou van Lingelihle gestroom.

Die vrou is die versorger van vyf pleegkinders..

Volgens Featherstonehaugh trek beamptes van CHDM hul skouers op en hou hulle die departement waterwese aandadig aan die probleem.

Cradock se water- en rioolprobleme spruit voort uit die oorname van hierdie dienste meer as vier jaar gelede deur CHDM van die plaaslike munisipaliteit af.

You need to be Logged In to leave a comment.