DIE Cradock Landbougenootskap, een van die oudstes in die land en, sover bekend die enigste wat deur twee wêreldoorloë en die depressie ononderbroke voortgegaan het, is vanjaar 156 jaar oud.

Vanjaar se skou word afgeskop deur ’n slaglam-kompetisie en vind vanaf 25 tot 27 Oktober plaas.

Die Cradock Landbougenootskap is in 1862 gestig en die dorp se skou, wat reeds sedert sy ontstaan die middelpunt van die plaaslike boerderygemeenskap is, is weens sy ligging in die hartjie van die land se stoettelersgebied, allerweë ook as een van die belangrikstes in die land beskou.

Van die beginjare af was die perde-afdeling die sterkste in sowel getalle as in die kwaliteit van diere wat bymekaar gebring is.

Die Monty Gadd-trofee is ’n permanente wisseltrofee wat in 1938 vir die eerste keer toegeken is. Dit is in 1938 deur Springkaan van meneer en mevrou Trollip gewen. In die daaropvolgende twee jaar is dit deur ’n perd met die indrukwekkende naam van Jannie Smuts du Plessis van die Trollip Broers gewen.

Hierdie ry-klas, net vir mans op vyfgang perde, vind vanjaar op Vrydag, 26 Oktober om 18:00 plaas en is gewoonlik die hoogtepunt vir beide deelnemers en toeskouers.

Die skouterrein wat in sy geheel na die 1974 vloed herbou moes word, is in ’n goeie toestand. Die bestuur verwag vanjaar ongeveer 200 perde, terwyl al die omgewing se stoettelers in die angora-, merino-, vleismerino- en boerbokafdelings gaan meeding.

Daar sal ook skaaphondvertonings en ongeveer 60 stalletjies met ’n verskeidenheid eetgoed en ander snuisterye wees. Die jongspan kan hulle verlustig in verskeie speletjies en ’n mallemeule.

Na verneem word gaan daar ook vanjaar ’n teetuin met heerlike gebak op die stoep voor die skousaal wees.
– WILNA DE KLERK

You need to be Logged In to leave a comment.