’n JONG onderwyseres van Cradock het weer goed presteer in ’n liggaamsbou-kompetisie in Port Elizabeth.
Amy van Jaarsveld, wat op 2 Junie aan die Physical Culture Organisation se Nelson Mandela Bay-byeenkoms in die Operahuis in Port Elizabeth deelgeneem het, het eerste gekom in die afdeling vir nuwelinge en ook ’n plek in die ope-afdeling behaal.
“Ek voel baie gelukkig dat ek so goed kon vaar tussen al die stadsmense wat persoonlike afrigters het en in die grootste en goed toegeruste gimnasiums kan oefen,” het Amy vertel.
Luyolo Rasmeni, ook van Cradock, het op dieselfde dag vyfde geëindig in ’n kompetisie waar daar dertien deelnemers was.
Amy en Luyolo ding ook eerskomende Saterdag in Queenstown mee en Luyolo sal weer op 22 Junie in Oos-Londen aan ’n kompetisie gaan deelneem.
Amy berei haar voor vir die provinsiale byeenkoms wat op 11 Augustus plaasvind.