CRADOCK-Oos NG Gemeente hou sy jaarlikse kerkbasaar op Vrydag, 3 Mei by die kerkkompleks in Jakarandastraat.

Dit is ’n feesgeleentheid waar almal lekker gaan saamkuier.

Die basaar skop om 12:30 af met die immergewilde kindertafel wat allerhande lekkernye te koop sal aanbied.

Daar gaan ook opwindende aktiwiteite en speletjies wees wat pret vir die jongspan sal verskaf. Dit sluit onder meer ’n springkasteel, teikenskiet en vissievang in. Die jongspan word genooi vir ’n heerlike middag van saamspeel en lekker eet.

Gewone basaartreffers soos pannekoek en poeding sal ook te koop wees met ’n kafee, waar mense kan kom uitspan met ’n koppie tee of koffie wat saam met ’n heerlike sny koek bedien word.

Allerhande gebak soos kleinkoekies, grootkoeke en terte sal ook beskikbaar wees.

Die vleistafel is altyd ’n treffer en die een wat eerste kom kan vir hom ’n paar lekker karootjops en boerewors kom uitkies vir sy volgende braai.

’n Woordvoerder van die kerk het belowe dat alles teen baie bilikke pryse beskikbaar sal wees. Dit sluit middag-ete, bestaande uit smullekker kerrie-en-rys en kerrievetkoeke in.

Vir die aandprogram is daar van 17:30 af potjiekos beskikbaar teen R60 per porsie. Kaartjies is by die kerkkantoor beskikbaar.

Vanaf 19:00 vind die immergewilde konsert plaas wanneer die seuns van Marlow ’n to-neelstuk aanbied.

Die dansers van René Ferreira gaan ook die konsertgangers met hulle passies vermaak en Chris Brits gaan musiek maak terwyl daar heerlik saam geëet en kuier word.

Belangstellendes moet vinnig spring vir kaartjies om te sorg dat hulle nie hierdie ge-leentheid misloop nie. “Ons hoop om ieder en elk daar te sien. Dit beloof om ’n baie lekker dag te wees met heerlike kos en samesyn,” het ds. Jan Grobbelaar gesê.

Skakel vir Carien Nel by die kerkkantoor by 048 881 3457 (tydens kantoorure) vir meer besonderhede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article