Cradock-Oos se gemeente hou basaaar

TERWYL smulpape eerskomende naweek na hartelus tussen al die aanbiedinge van die Karoo Kosfees saamkuier, kan hulle ook uitsien na volgende Vrydag, 4 Mei se basaar by die NG Kerk Cradock-Oos.


TERWYL smulpape eerskomende naweek na hartelus tussen al die aanbiedinge van die Karoo Kosfees saamkuier, kan hulle ook uitsien na volgende Vrydag, 4 Mei se basaar by die NG Kerk Cradock-Oos.

Die jaarlikse basaar vind by die kerkkompleks in Jakarandastraat plaas en dit is ’n feesgeleentheid waar almal lekker gaan saamkuier.

Die geleentheid begin vanaf 12:30 wanneer die immergewilde kindertafel in werking sal wees met allerhande lekkernye en pret.

Daar gaan ook opwindende aktiwiteite en speletjies plaasvind wat die jongspan kan geniet terwyl hulle wag vir Nakkie die Nar om sy opwagting te maak.

Gewone basaartreffers soos pannekoek en poeding sal te koop wees, terwyl die publiek in die kafee lekker kan uitspan en ’n koppie tee of koffie saam met ’n heerlike sny koek of tert kan geniet.

Daar sal ook allerlei gebak soos kleinkoekies, grootkoeke en terte te koop wees terwyl mense by die vleistafel ’n paar lekker karoo-tjops en boerewors kan uitkies vir ’n volgende braaigeleentheid.

Vir middagete word smullekker kerrie-en-rys en kerrievetkoeke te koop aangebied.

Tydens die aandprogram sal daar vanaf 17:00 potjiekos teen R50 ’n kaartjie by die kerkkantoor beskikbaar wees. Daar gaan ook verskeie potte wees om van die kies en te keur.

Vanaf 19:00 gaan daar lekker saam gekuier en gedans word in die saal en die musiek sal deur Chris Brits verskaf word.

Volgens ds. Jan Grobbelaar hoop hulle om ieder en elk daar te sien. Hy sê dit beloof om ’n baie lekker dag met heerlike kos en samesyn te wees.

Die kerkkantoor kan tydens kantoorure vir bestellings en meer besonderhede by 048 881 3457 gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.