Cradock se polisielede het komberse aan die Diereskuiling geskenk. Hier is van die Diereskuiling se honde klaar besig om die snoesigheid van die komberse te geniet.

Foto: Verskaf

CRADOCK se polisie het saamgespan om ’n skenking van 79 komberse vir honde en katte in die Diereskuiling op die dorp moontlik te maak.

Volgens Karen Human van die Diere-skuilding se bestuur, is daar tans ongeveer 100 honde en 40 katte wat hulle versorg.

“Die komberse is met groot dankbaarheid ontvang want vanjaar se winter is baie koud. Dit gaan maar moeilik om so ’n groot klomp diere te versorg,” sê Human. “Kos is veral ’n groot probleem. Maar ons doen ons bes om ’n veilige hawe vir die diere in nood te voorsien.”

Volgens haar is die diere wat hulle inneem hoofsaaklik van mense wat weens finansiële druk nie meer na hulle troeteldiere kan om-sien nie. Daar is ook ’n beduidende hoeveelheid honde en katte van mense wat wegtrek en die diere eenvoudig agterlaat. Die Diereskuiling verkoop tans gelukkige trekking-kaartjies waarmee ’n R300 koopbewys by Adami, R500 koopbewys by Tams Superspar, en R500 kontant gewen kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article