< In die foto is Cas Joubert se afstammelinge voor die saal wat na hom vernoem is. Hulle is Adél, Juan en Ruth Joubert, Karin en Casper Geyer, Pieter Joubert, Zane, Marcele, René en Antoinette Joubert. FOTO: WILNA DE KLERK


CRADOCK-posduifklub het onlangs ’n voormalige lid vereer toe hulle die opgeknapte klubhuis as die Cas Joubert-klubhuis bekend gestel het.

Joubert, wat 53 jaar lank met duiwe geboer het, was vir 12 jaar voorsitter en 11 jaar klubkampioen. Hy word beskryf as ’n gebore duiweboer en het by geleentheid sommer al 20 trofeë wat op die spel was, by ’n prysuitdeling gewen.

Volgens sy vrou, Ruth, het sy duiwe altyd eerste gekom in sy lewe. “Julle moet weet toe ons dogter Karin met Casper Geyer getroud is, het Cas net eenvoudig gesê as hulle op ’n Saterdag wil trou, sal hy net nie beskikbaar wees nie. Hulle was verplig en trou toe Son-dagoggend ná die erediens om hul pa geleent-heid te gee om by die troue te kom,” het sy vertel.

Sy het die klub bedank vir die gebaar wat presies 15 jaar ná sy sterfdatum plaasvind.

Ruben van Heerden, die voorsitter, het vertel hoe hy en sy pa, André, lank gelede stille-tjies die mates, materiaal en ligging van “oom Cas” se hok gaan afkyk het en op die plaas gaan dupliseer het. Dit het egter niks gehelp nie aangesien Joubert steeds gewen het.

Op ’n vraag aan Joubert oor wat hy dan sy duiwe voer om so suksesvol te wees, het hy glo kortaf geantwoord “jik en suurlemoensap”.

Die klub gaan gedurende September hul moderne nuwe gemeenskapshokke, waar jong duifies uit alle provinsies grootgemaak word vir vlug, inwy.

By dié geleentheid sal die splinternuwe Benzing-klok, wat deur ’n Duitse firma geborg word en dit moontlik maak dat wedvlug-uitslae wêreldwyd te sien sal wees, in gebruik geneem word.

You need to be Logged In to leave a comment.