Sterspelers Jonathan Simons en Jonathan Prins. FOTO: VERSKAF


DIE gewilde Evergreens-sporttoernooi word hierdie Saterdag by die Cradock-sportvelde gehou.

Vanjaar se toernooi is ’n voorloper vir die feesvieringe wat van 21 tot 23 September gehou sal word om die klub se 70ste bestaansjaar amptelik te vier.

Verskeie rugbyklubs, waaronder Ikhala TVET College (Queenstown), Eastrand van Johannnesburg, Karoo Springbokke, Middelburg Eagles, Tarkastad Stars en Windvogel (PE) gaan vir die prysgeld van R15 000 en die Willie Alcaster-trofee meeding.

Die verdedigende kampioen is Evergreens wat hoop om weer die finaal te haal om sy feesjaar spesiaal te maak.

Volgens die kaptein van Evergreens, John Tom, is sy span reg om harde, lekker rugby te speel om die status quo te behou en die 70ste bestaansjaar onvergeetlik vir rugby-entoesiaste te maak.

Evergreens en Karoo Springbokke het ’n rugbygeskiedenis wat kan bydra tot die vuurwerke as die twee derbyspanne mekaar in die eindstryd van die rugby sou ontmoet. Eastrand, wat die bekende Sean Plaatjies in sy afrigtingspan het, was in 2016 by die toernooi en sal hoop om hierdie jaar die beker Noorde toe te vat. Ikhala College, wat ook netbalspanne saambring, maak sy debuut by die toernooi.

Die 70ste viering van die sportfees, wat ook netbal- en laerskoolspanne insluit, beloof om ’n lekker bymekaarkoms vir familie en oud-spelers te wees. Vir die spelers, oud-spelers en ondersteuners van Evergreens is dit altyd lekker om deel van die toernooi te wees.

Die klub se oud-spelers kuier reeds Vrydag-aand bymekaar vir die tradisionele “Big Brag” en braaivleis-aand, waarby die spanne en die klub se nuwe trui aan die ondersteuners bekend-gestel sal word. Ondersteuners word aange-moedig om tog die veiligheidsmaatreëls by die veld te gehoorsaam en reëlings te tref vir die sekuriteit van kinders en jongmense.

Vervoer vanaf die veld terug na die woongebiede is beskikbaar vir ondersteuners ná die rugbyprogram. Spanne wat nog wil inskryf kan die sekretaris by 078 857 2524 skakel of stuur ’n e-pos na -darioisaacs00@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.