AANGENAME weerstoestande was aan die orde van die dag by die Middellande rolbalkampioenskappe in die pare-spelkompetisie die afgelope naweek op die Cradock rolbalbane.
Elf dames en sewentien mansspanne het om die titel meegeding en die spanning het soms hoog geloop.
“Ons wil die lede van Cradock klub wat van vroeg tot laat hard gewerk en baie opofferings gemaak het om alles in plek te kry en te hou vir die toernooi van harte bedank,” het Tinie Prinsloo, die klub se woordvoerder, gesê.
In die mansafdeling het Nappie Erasmus en Deon Matthee van Jansenville goud gekry, Abrie Joubert en Willie van Heerden van Middelburg silwer, terwyl Johan Mattheyse en Pieter Kleynhans van Somerset-Oos asook Danie Sherman en Johan van Onselen brons gedeel het.
Die jonge Pieter Kleynhans van die Hoërskool Gill op Somerset-Oos se uitstekende spel het almal gaande gehad en ’n blink rolbaltoekoms wink vir hom.
In die dames-afdeling het Loraine van den Berg en Barbara van Zyl goud gewen, met Alida Zwiegers en Helen Louw van Middelburg wat silwer gekry het. Die Middellande Damesspanne, bestaande uit twee vierspelspanne wat later vanjaar in Queenstown aan die jaarlikse Mini Distriktetoernooi gaan deelneem, is ook tydens die toernooi gekies.