’n TWEEDE vergadering van Cradock-sakelui met amptenare van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit oor haglike toestande rakende veral elektrisiteitsvoorsiening, die dorp se strate en vullisverwydering, het verlede Vrydag in die stadsaal op dié dorp plaasgevind.
Klagtes wat die groep sakelui gehad het, was onder meer die groot verliese aan werksure weens krag-onderbrekings, die steengroef wat reeds gesluit het as gevolg daarvan en ’n steenmakery wat vir ’n week geen produksie kon lewer nie, maar nogtans sy werkers moes betaal.
“Sake-ondernemings kan nie bestaan met dae sonder krag nie en kleiner ondernemings kan nie die buitensporige koste van kragopwekkers, wat in sommige gevalle meer as R16 000 per maand beloop, dra nie,” is by dié vergadering gesê.
Daar is ook gevra of daar genoeg krag beskikbaar is vir mense om uit te brei of nuwe besighede om in te kom. Mteza Sepunzi, hoof van elektrisiteitsvoorsiening, het erken dat daar die afgelope tyd baie probleme was. Hy het gesê hulle is tans besig om alle onderaardse kabels met oorhoofse drade te vervang en dat die munisipaliteit besig is om ’n son-kragstasie vir Cradock te probeer ontwikkel. Xolela Msweli, munisipale bestuurder, het in antwoord op vrae tydens die vergadering gesê die munisipaliteit staar bankrotskap in die gesig, en dit word aangehelp deur ’n bedrag van R142 miljoen wat sake-ondernemings aan die munisipaliteit skuld.
Msweli het erken dat die dorp op die oomblik baie vuil is, maar dit toegeskryf aan die twee vullisverwyderingsvoertuie wat op beslag gelê is weens wanbetaling. Hy kon die gemeenskap egter gerusstel dat die voertuie afgelos is en verlede Vrydag weer teruggekom het.
Hy stem saam dat die dorp se strate in ’n haglike toestand is. Hy het dit toegeskryf aan die feit dat daar in die verlede nie genoeg begroot is vir strate nie, alhoewel daar voorgeskryf word dat munisipaliteite ten minste 10% van hul bedryfsbegroting daarvoor moet oormerk.
Msweli het belowe dat daar in Junie vanjaar kontrakteurs aan boord sal wees om strate te herstel.
Lou Venter, sameroeper en ook as voorsitter van die vergadering, het ná afloop van die byeenkoms gesê dat dit die eerste keer was dat Cradock-sakemanne op so kort kennisgewing saamgestaan het.
“Die boodskap het duidelik deurgegaan dat sakelui nou keelvol is vir die probleme. Die munisipaliteit is nou goed ingelig oor al ons griewe en bekommernisse en hulle weet ook dat, sonder krag, geen besigheid kan bestaan nie,” het hy gesê en bygevoeg dat die huidige situasie die kommerwekkende hoë werkloosheidsyfer aansienlik sal verhoog.
Venter het ook gesê dat dit tyd sal vat voor mense resultate sal sien, maar dat die munisipaliteit nou deeglik bewus is van die sakelui se frustrasie.

