Een van Mamapula se Nissan Navara draadbakkies.

Van ‘n nederige begin as tydverdryf van draadspanners op plase in die Cradock- distrik om draadspeelgoed uit afvalstukkies draad vir hul kinders te maak, het Cradock se draadkarre nou internasionale bekendheid verwerf en “ry” oorsee rond.

Rivaldo “Waldo” Mamapula, wat een van die grootste draadkuns-stalletjies buite Cradock het, vertel dat hy in 2012 oor naweke begin het om windpompies, karretjies en allerhande ander draadartikels te maak.

Vir sewe jaar was dit sy naweekwerk, maar sedert Julie 2019 het dit só goed begin gaan met sy draadkuns dat hy nou voltyds draadkuns skep.

“Op ’n dag het daar ‘n man by my stalletjie stilgehou en gevra of ek baie draadkarre kan maak,” sê Mamapula.

“Ek moes toe vir hom ’n nuwe Nissan Navara maak en dit vir hom aanstuur. Hulle het ’n paar veranderinge aangevra en na die derde of vierde keer was hulle tevrede.

“Toe kom die groot bestelling vir Nevara-draadbakkies. Die man het gesê hulle soek die draadbakkies vir die bekendstelling van die nuwe Nissan Navara, wat in Suid-Afrika gebou word.”

Mamapula sê hy kon nie al die draad- bakkies alleen maak èn die spertyd van aflewering behaal nie, gevolglik het hy die hulp van dertig draadkunstenaars van Michausdal en Lingelihle ingeroep. Bystand het ook gekom van WireCar Africa Manufacturers, ’n projek van die One Africa Foundation.

Neville Prinsloo van Hello Cradock, het sy motorhuis beskikbaar gestel sodat die draadkunstenaars die groot bestelling kon voltooi.

“Ons was soos ’n fabriek ingerig en ons kon gou-gou die eerste 150 karretjies aanstuur,” sê Mamapula.

WireCar Africa, wat deur Nissan ondersteun word, mik daarna om innovasie, ontwerp, krea-tiwiteit en selfvertroue by draadkunstenaars te bevorder. Die projek erken die waarde wat ’n eenvoudige stuk Karoo-afvaldraad inhou, wanneer dit konstruktief omskep word vir hergebruik in ’n alternatiewe vorm, soos draadkarre of in dié geval draadbakkies, én ’n inkomste aan die skeppers kan bied.

WireCar Africa was tevore ook betrokke by die vervaardiging van ander fabrikaat draadkarre, onder meer Mini Coopers na Kaapstad en ’n hele klomp Nissan NP302’s na Engeland.

Rivaldo ‘Waldo’ Mamapula aan die werk. Foto’s:VERSKAF

You need to be Logged In to leave a comment.