Cradock se liggaamsbouers bult hul spiere

TWEE liggaamsbouers van Cradock het baie goed presteer by ’n onlangse liggaamsboukompetisie wat in Port Elizabeth gehou is.


TWEE liggaamsbouers van Cradock het baie goed presteer by ’n onlangse liggaamsboukompetisie wat in Port Elizabeth gehou is.

Amy van Jaarsveld en Luyolo Rasmeni het albei eerste pryse in hul afdelings verower.

“Ek is in die afdeling vir deelnemers met ’n lengte van 168cm beoordeel. Daar word nie net na jou liggaamsbou en hoe jou spiere ontwikkel gekyk nie, maar ook na liggaamsvet, spierdefinisie en selfs na jou bikini, grimering, hare, skoene en selfvertroue,” het Amy vertel.

Sy sê die kompetisie was ’n baie goeie ervaring aangesien dit ’n mens motiveer om trots op jou liggaam te wees.

“As jy goed voel, doen jy sommer goed in die lewe,” het Amy, ’n gr. 4-onderwyseres by die Laerskool Carinus op die dorp gesê.

Sy vertel dat sy in haar laaste jaar by die Nelson Mandela-universiteit deur ’n vriendin aan liggaamsbou bekend gestel is en dadelik geweet het dit is wat sy wil doen.

Sy het tans ’n afrigter van Queenstown wat haar oefenprogram en hoë proteïen-dieet uitwerk.

“My ouers was eers nie baie gelukkig met my oefening nie, maar nou dat hulle besef ek gaan nie soos ’n man lyk nie, is hulle heel tevrede,” het Amy lag-lag vertel.

Sy sê so baie vroue het probleme rondom hul liggame en word sielkundig daardeur gestrem, terwyl liggaamsbou- oefeninge baie van die probleme kan oplos. Sy oefen soggens van 05:00 tot 06:00 en smiddae weer van 16:00 tot 18:00 en sê dat die oefening haar nie net liggaamlik verbeter nie, maar haar ook geestelik versterk.

“Die ondervinding wat ek by die kompetisie opgedoen het, is vir my baie meer werd as die mooi trofee wat ek verower het,” het sy gesê.

Amy gaan op 2 Junie weer in Port Elizabeth deelneem en mik daarna om in Augustus by die provinsiale en in September by die nasionale kompetisies deel te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.