Cradock se Moederkerk spog met ryke geskiedenis

DIE NG Moederkerk op Cradock is ’n bekende baken op die dorp.


DIE NG Moederkerk op Cradock is ’n bekende baken op die dorp.

Terwyl die gemeente vanjaar 200 jaar oud is, is hierdie pragtige klipkerk op 10 September van dieselfde jaar 150 jaar oud.

Cradock-gemeente het van 1824 tot 1862 in die voormalige Kruiskerk aanbid, maar die dorp se derde NG-predikant, ds. J.H. du Plessis, het hom van sy aankoms in 1981 beywer vir die bou van ’n nuwe kerk. Hy was die eerste Afrikaanse pre-dikant van die gemeente en daar is onder sy leiding begin om ’n kerk in Dundasstraat te bou.

Aangesien die Kruiskerk goed geleë was in die middel van die dorp en dit ’n ongeskrewe reël was dat ’n kerk binne loopafstand van gesiene inwoners se huise moes wees, is die Kruiskerk gesloop. Die beplande nuwe kerk was heelwat groter en die oorskot van almal wat om die kerk begrawe is, moes derhalwe verwyder word.

In 1963 word begin met bouwerk en op 16 Junie 1964 lê landdros Louis Henry Meurant (wat ook betrokke was by die bou van die Kruiskerk), die hoeksteen. Dié keer is daar ’n kroon, halfkroon, florin, sjieling, sikspens, vierpennie- en driepenniestukke, een-en-’n-half pennie, en half- en kwart pennies onder die hoeksteen gesit.

Gemeentelede het klip van die dorp se kant van die rivier aangery omdat daardie klip se kleur glo beter was. William Mayers het 100 vragte van die anderkant van die Visrivier voorsien. Die gemeente het op 23 Mei 1865 ’n veeveiling gehou om boufondse in te samel.

Die NG Moederkerk is ’n replika van St. Martins in the Field in London en word beskryf as ’n uitmuntende voorbeeld van die klassieke nabootsingstyl van die tyd.

Die dag van die inwyding van die kerk in 1865, was daar glo 541 rytuie, 2 000 besoekers en 15 predikante op die dorp. Jong dames het die rokke wat hulle sou dra, druk bespreek. Swart sou die beste wees, maar net vir ouer vroue. Modieuse jong dames het gedink “wit karse ze dresse en zwart sy bodies” sou beter wees met vrolike groen en geel hoedjies met blou of wit lint.

Ná ’n konsternasie omdat die bouheer nie die sleutel wou afgee voor ’n verskuldigde balans betaal word nie, is ’n vinnige kollekte gehou en kon 2 000 mense by die kerkdeure indruk.

Vir die volgende 33 jaar het gemeentesake rustig verloop. Die kerk het ’n nuwe orrel en horlosie gekry en Hester Michau het ’n nuwe preekstoel geskenk.

Du Plessis het in 1882 die tuig neergelê en is in 1884 opgevolg deur ds. JC Reyneke.

In 1901 het die Anglo Boere-oorlog na die Kaap Provinsie verskuif waar die Kaapse Rebelle baie aktief en die Engelse soldate gedurig op hul spoor was. Die Moederkerk het ’n belangrike rol gespeel en die Engelse het hierdie baken in die middel van die dorp oorgeneem. Soldate op die dak het dorpsbewoners met arendsoë dopgehou.

Op 12 Julie 1901 moes almal op die Markplein aantree om te sien hoe die jong Johannes Coetzee ter dood veroordeel word. Soldate met kanonne was teenwoordig. Die kerkdeure was met sandsakke toegepak en soldate het sporadies met geweerkolwe op die leiklipdak gestamp. Johannes is op 15 Julie 1901 by die gevangenis doodgeskiet terwyl die hele gemeente in die kerk gesit en bid het.

’n Groot skok was toe Reyneke in September 1901 vir 18 dae deur die Engelse opgesluit is en vir 10 maande van sy werk geskors is. Gemeentelede wat as “ongewenstes” verklaar is, is na ’n millitêre kamp in Port Alfred gestuur.

Nog drie Kaapse Rebelle is in Reyneke se tyd op Cradock tereggestel. Hulle was W. Kruger en DC Breed (16 Oktober 1901) en F. du Randt (4 April 1902).

Daar is vandag ’n gedenksteen vir dié drie, sowel as al die ander mans wat in die distrik ge-sterf het, in die kerk se tuin.

Die dak moes intussen vervang word, die binnekant van die kerk is ’n paar keer opgeknap en dit is ’n paar dekades gelede tot nasionale monument verklaar.

You need to be Logged In to leave a comment.