CRADOCK se NG-gemeente is vanjaar 200 jaar oud en was vir 22 jaar, ná lede van die Groot Trek vanaf Elandsdrift vertrek het om van die Engelse oorheersing te ontsnap, nog deur Engelse en Skotse predikante bedien wat deur die goewerneur van die Kaap vir hulle aangestel en besoldig is.
Ds. John Evans (1823 – 1917) wat maar ’n kort dienstydperk beleef het en ds. John Taylor (1824 – 1860) was onderskeidelik van Engeland en Skotland afkomstig.
Die NG-gemeente Cradock is op 10 Junie 1818 gestig en voordat daar in 1821 begin is met kerkbou, was byeenkomste onder meer binne ’n laer, in die pastorie en selfs in ’n wynkelder gehou. Daar was glo by tye soveel as 300 tot 400 waens vir ’n nagmaalbyeenkoms bymekaar.
Besonderhede van kerklike aangeleenthede is beperk aangesien die notuleboeke tussen 1820 en 1830 glo in brande tydens die destydse grensoorloë vernietig is.
Bouwerk aan die eerste, en sogenaamede Kruiskerk, het in 1821 begin. Destyds was daar nie ’n formele hoeksteenlegging nie, maar almal teenwoordig het op die dag rondom die steen ge-staan en met hul hande daarop gedruk. Die betekenis van hierdie aksie was onbekend, maar landdros Louis Henry Meurant het verduidelik dat dit knapsakke vol geld voorgestel het.
Meurant (ook bekend as die skrywer Klaas Waarzegger) het die boukommissie aangevoer.
Die kerk het vier Kaaps-Hollandse gewels gehad en die kontrakteur Philippus Maré van Graaff-Reinet het die kerk op 5 Oktober 1824 “bezemschoon” aan die gemeente oorhandig.
Die Kruiskerk het op dieselfde plek as die huidige NG Moederkerk gestaan en het ook na die rivierkant gekyk. Die kerk was 37 meter lank en 35 meter breed. Daar was plek vir 1 000 kerkgangers en die reëling was dat mans aan die kante en vroue op stoele in die middel moes sit. Kerkgangers moes hul eie stoele voorsien, maar die kerkraad het van tyd tot tyd banke laat maak.
In 1824 moes daar 2 Rds vir elke stoel betaal word maar in 1825 en 1827 was daar 100 plekke teen tien sjielings stuk verhuur. Die kerk het die maak van gesinsbanke aangemoedig.
In 1827 is twee hoekbanke – die duurste plek in die kerk – gemaak en in 1839 is 18 geelhoutbanke met deurtjies en boekborde gemaak.
Omstreeks 1835 is ’n bank vir rustende kerk-raadslede en ses banke vir die kostelose gebruik van armes gemaak.
Nog voor die kerk ingewy is, het die kerkraad ’n skikking oor “zit plaatsen van distin(c)tie” gemaak waar hooggeplaastes en vername mense kon sit.
Die Trek het ’n groot leemte in die kerk gelaat aangesien daar beweer word dat van die voorste mense in die distrik die Trek ondersteun het. Trekkers uit die Tarkagebied is op 120 gestel. Hulle het nagenoeg 100 000 stuks kleinvee, 6 500 stuk grootvee en 1 000 perde met hulle saamge-neem.
President Paul Kruger se ouers, Casper Kruger en Elsie Steyn, is op 3 September 1820 saam met nog elf bruidspare in die Kruiskerk getroud en hul oudste kind, ’n dogter, is in 1821 daar gedoop. President Paul Kruger – as enigste dope-ling van die dag – is op Sondag, 19 Maart 1826 as Stephanus Johannes Poulus Kruger in die Kruiskerk deur ds. John Taylor gedoop.