Cradock se oud-skoliere kom byeen

DIE Hoërskool Cradock se interskole-na-week teen Gill-Kollege van Somerset-Oos het goed verloop, maar dit was eintlik die reünies van verskillende matriekklasse wat vir die meeste pret en plesier gesorg het.


DIE Hoërskool Cradock se interskole-na-week teen Gill-Kollege van Somerset-Oos het goed verloop, maar dit was eintlik die reünies van verskillende matriekklasse wat vir die meeste pret en plesier gesorg het.

Oud-skoliere van so ver as Johannesburg, Bloemfontein, Pretoria, Kaapstad en selfs een van Amerika was teenwoordig. Die grootste groep was diegene wat skool in 1988 verlaat het en vanjaar hul 30-jaar reünie herdenk.

Die oud-skoliere se program het oor die hele langnaweek gestrek en reeds Woensdagaand begin met ’n kaas-en-wynfunksie vir borge, ondersteuners, onderwysers en oud-skoliere van 1988.

Verskeie oud-leerders soos Neil Vertue van Pretoria het by die geleentheid gepraat oor die groot voordele van ’n skolier op die platteland, terwyl dr. Leston Lawn, deesdae ’n baie suksesvolle plastiese chirurg van Johannesburg, vertel het hoe bevoorreg hy was om, weens die korrekte vakkeuses, by Cradock skool te kon gaan.

Roslynne Strydom het die feit dat sy vir tien jaar suksesvol in die buiteland kon werk, toegeskryf aan die voordele wat ’n kleiner skool inhou.

Charles Garth, voorsitter van die oud-skolierebond, het al die ondersteuners bedank en gesê sonder borge en oud-skoliere kan hulle nie sukses behaal nie.

Hy het vir Jeanette Geldenhuys bedank dat sy spesiaal van Somerset-Wes af gekom het om met die reëlings te help.

Oud-skoliere wat die skool 10, 20, 30 en 50 jaar gelede verlaat het, het al die funksies van die naweek wat onder meer gesamentlike ontbyt, potjiekos, braai, ’n dans en kerkdiens in die NG Kerk Cradock-Noord ingesluit het, bygewoon.

Sondag se kerkdiens is deur ds. Jaco Botha, nou van Misgund, waargeneem. Hy was Cradock se hoofseun in 2008.

Vernon Viljoen, ook ’n oud-skolier wat nou in Komani (Queenstown) woon, het die orrel gespeel.

You need to be Logged In to leave a comment.