CRADOCK se Vukasebenza-skuiling (word wakker en werk) is vanjaar tien jaar oud en is steeds ’n veiige hawe waar hongeres gevoed en haweloses geherberg word.
Vukasebenza kry geen staats- of ander vaste ondersteuning nie, tog het die onderneming – wat in 2008 met een pot en ’n gasstofie vir vyf mense kos gegee het – uitgebrei tot waar hulle deesdae sewe dae van die week tussen 60 en 70 mense gemiddeld voed.
Volgens die bestuurder, Hazel Schamrel, kan die sukses van die onderneming toegeskryf word aan die hardwerkende personeel, ondersteuning van die gemeenskap en baie genade.
Die gebou in Cawoodstraat waar die skuiling is, behoort aan ’n plaaslike sakevrou wat geen huur vra nie. Hulle moet egter vir water en elektrisiteit aan die betrokke munisipaliteite betaal.
Die skuiling se hoofbron van inkomste is hulle winkel en die kombuis. In die winkel word tweedehandse klere, wat geskenk word, teen minimale pryse aan behoeftiges verkoop.
In die kombuis word elke Vrydag drie soorte brood sowel as vetkoek en curry bunnies op bestelling gebak. Hulle bak ook heerlike botterbroodjies en maak sout of soet smorgasborde vir individue, begrafnisse, skole of sake-ondernemings.
Die kombuis is ook verantwoordelik vir die voedingsprojek. “Ons maak kos vir tussen 60 en 70 en tot 100 mense elke dag van die week. Die getalle vermeerder drasties in die vakansies wanneer skoolvoedingskemas toe is en ons baie honger kinders kry wat kom eet,” sê Veronica Booysen wat nou al vir baie jare bestuurder van die kombuis is.
“Maar,” sê sy, “niks is verniet nie. Ons het koeponboekies (R50 vir 10 ete-kaartjies) wat mense kan koop om vir hongeres te gee. Indien hulle nie ’n kaartjie of R5 het nie, moet hulle vir ons ’n sak met plas-tiekbottels vir ons herwinningsprojek vir ’n bord kos bring.”
Veronica hanteer ook ’n projek vir uitry-etes aan bejaardes wat nie hul huise kan verlaat nie. Hierdie 15 mense wat deur meer bevoorregtes geborg word, kry twee keer per week ’n lekker gesonde bord kos en poeding.
Daar is ook ’n bedrywige was- en strykafdeling waar wasgoed, van veral gastehuise, daagliks inge-neem word. In die welige groente-tuin word daar groente vir gebruik en om te vries, gekweek.
In die naaldwerkafdeling doen vroue herstelwerk, maak hulle handsakke en kussings van afvalmateriaal en word vroue opgelei om naaldwerk te doen. ’n Gereelde projek is die maak van meer as 100 voorskootjies en boeksakkies vir graad een’s van die plaaslike Voorbereidingskool.
Hulle maak ook serpe en hoedjies vir die kinders in die winter en het pas begin om voorskote en kos-hoede (toque) vir aspirante sjefs van die Hoërskool Cradock gemaak.
In die houtwerkafdelling word meubels gemaak en restoureerwerk gedoen.
Vukasebenza het ook vanaf 2000 oorslaapgeriewe wat daargestel is deur Hollandse besoekers wat ’n groot saal wat in onbruik was, omskep het in ses slaapkamers, storte en toilette. Die geriewe word ge-reeld deur haweloses van die straat af gratis benut.
Dit word ook verhuur aan kerkgroepe, onderwysers wat vir kursusse kom en andere. ’n Totaal van 430 betalende persone het in 2017 daar oornag.
Volgens Schamrel kan hulle nie genoeg dankie sê vir almal wat die skuiling ondersteun nie. Die grootste hiervan is die Unogwajaspan, ’n groep fietsryers wat jaarliks van Kaapstad na Pietermaritzburg ry om aan die Comrades deel te neem.
Hulle ondersteun die skuiling al vir ongeveer sewe jaar en oornag altyd daar. Hulle nuutste skenking was ’n tenk en kragopwekker as teenvoeter vir die dorp se vele krag- en wateronderbrekings.
Hulle het ook die gebou se vloere laat afskuur sodat dit geverf kon word deur leerlinge van St Andrews College en DSG in Grahamstad wat elke jaar op ’n uitreik na onder meer die skuiling kom.
Die plaaslike motorfietsklub skenk ook jaarliks ’n bedrag geld, terwyl boere uit die distrik groente, melk en gedurende die jagseisoen, wildsbene bring.
“Dit gaan werklik baie goed met ons,” het Schamrel gesê, “maar ons het regtig mense of groepe nodig wat ons oor naweke kan aflos om vir die behoeftiges kos te maak en op te skep.
Ons personeel werk hard gedurende die week en ek dink regtig hulle verdien om oor naweke bietjie te rus.”
Ds. Jan Grobbelaar is die voorsitter van die skuiling se beheerraad.