Cradock-tehuis lewer dienste aan bejaardes

DIE ACVV Elizabeth Jordaan-tehuis (EJT) in Cradock, wat sedert 1927 bestaan, lewer ’n uiters noodsaaklike diens, asook verblyf aan verswakte persone bo 60 jaar.


DIE ACVV Elizabeth Jordaan-tehuis (EJT) in Cradock, wat sedert 1927 bestaan, lewer ’n uiters noodsaaklike diens, asook verblyf aan verswakte persone bo 60 jaar.

“Ons ideaal is om elke persoon met waardigheid in ’n veilige en huislike omgewing wat psigiese, terapeutiese, huishoudelike, geestelike-, verplegings-, en versorgingsdienste insluit, te versorg. Die beleid van die wet op ouer persone en beskerming van hul regte is die norm waarvolgens ons dienste gelewer word,” sê Levina Nel, tehuisbestuurder.

Sy sê die perseel word beveilig deur elektriese heinings en ’n effektiewe brandalarm wat gekoppel is aan ’n plaaslike sekuriteitsfirma.

Die geboue beskik ook oor ’n kamerastelsel aangesien die tehuis ’n zero toleransie ten opsigte van mishandeling van ouer persone handhaaf.

Sosiale aktiwiteite met verversings en programme word maandeliks vir die inwoners aangebied en hulle het toegang tot biblioteekdienste van die dorpsbiblioteek, asook die tehuis se eie biblioteek.

’n Beheerraad van vrywilligers uit die gemeenskap is in beheer van die bedryf van die tehuis. Op die perseel is die daaglikse bestuur in die hande van ’n bestuurder, administratiewe afdeling en ’n boekhouer en sekretaresse. Die verpleegafdeling bestaan uit geregistreerde en ingeskrewe verpleegkundiges en gesondheidswerkers terwyl die huishoudelike afdeling uit ’n voedseldiensbestuurder, twee assistent-voedseldiensbestuurders, huishulpe, kokke en wasvroue bestaan.

“Ouer persone moet solank as moontlik in hul eie omgewing bly, maar EJT bied ’n ondersteuningsraamwerk vir wanneer ’n persoon nie meer onafhanklik kan funksioneer- of familie nie meer na ’n ouer persoon kan omsien nie,” het Nel verduidelik.

Op die perseel van EJT is daar ook wooneenhede, bekend as die Erica Sentrum, wat bestaan uit enkel-, een- of twee-slaapkamer-woonhuisies vir inwoners wat nog selfversorgend is en in ’n veilige omgewing wil aftree. Hulle is ook verseker van nasorg in ’n versorgingseenheid as dit benodig word.

“Die EJT en Erica Sentrum lewer ’n diens van ’n hoë gehalte aan sy inwoners en dit is belangrik dat hierdie fasiliteite behoue bly vir die nageslag,” het Nel gesê.

Vir inligting kontak Levina Nel by 048 881 1857.

You need to be Logged In to leave a comment.