Die vier tennisspelers van Cradock-tennisklub wat aan die interprovinsiale toernooi deelgeneem het, is Robert de Klerk, Ricky de Klerk, Liezel Rautenbach en Nandi Norval. Foto:VERSKAF


VIER spelers van die Cradock-tennisklub het die Oostelike Provinsie by die interprovinsiale tennistoernooi wat by Sun City plaasgevind het, verteenwoordig.

Die broers Ricky en Robert de Klerk, en die susters, Liezel Rautenbach en Nandi Norval, is etlike weke terug, ná uitspeelrondtes in Port Elizabeth, aangewys om die Oostelike Provinsie by hierdie toernooi te verteenwoordig.

Daar was by Sun City geen vooraf keuring van spelers nie aangesien dit die eerste keer was wat die toernooi aangebied is en Cradock moes in groep twee speel.

In die eerste uitspeelrondtes het OP die span van Wesbank (Suid-Westelike Distrikte) met 3-0 geklop en daarna ook vir Lapeza (Noord-Kaap) 3-0 geklop.

Hulle het egter teen Kovsies vasgeval toe die vroue 2-0 en die mans 2-1 verloor het. Hulle het gemengde dubbelspel ook verloor en tweede in hul afdeling geëindig. In die volgende rondte het hulle teen Strand 2-1 verloor, maar die uitspeelrondte vir sewende en agtste plekke gewen om in die sewende algehele plek te eindig.

Cradock se span was die enigste “dorp” span wat teen spelers uit stede kragte gemeet het. Wat opmerklik was in die toernooi, was dat ses uit die 64 spelers wat aan die toernooi deelgeneem het, oud-skoliere van die Hoërskool Cradock was.

Hulle was Arné Nel, Reze Opperman, Robert de Klerk, Ricky de Klerk, Nandi Norval en Liezel Rautenbach.

Die toernooi is deur Growth Point-eiendomsmaatskappy geborg.

You need to be Logged In to leave a comment.