Cradock verwelkom nuwe kunstenaars

CRADOCK het onlangs sy eie kunstenaars bekendgestel by die dorp se eerste uitstalling van kunsstudente.


CRADOCK het onlangs sy eie kunstenaars bekendgestel by die dorp se eerste uitstalling van kunsstudente.

Die agt studente is leerlinge van Lou Venter, ’n Cradock-kunstenaar wat al enkeluitstallings gehou het.

Hulle het vir drie maande aan die uitstalling gewerk en elkeen het tien of meer olieverfskilderye op blokke vertoon.

Daar was groot belangstelling in die uitstalling en van die kunstenaars se werk wat teen R500 stuk aangebied is, is verkoop.

Volgens Venter het hulle die skilderye vir die aand meer bekostigbaar gemaak aangesien sulke olieverfskilderye maklik tussen R750 en R1 000 kan haal. Volgens hom het al die studente baie talent. Sommige het al kuns gedoen, maar olieverfwerk was ’n nuutjie vir almal.

“Ek hou elke Woensdagmiddag klas en leer die studente om al die korrekte tegnieke van olieverf op kleiner formaat toe te pas. Elkeen het ook ’n persoonlike styl waarin hy skilder. Die groot ding is om goed na jou onderwerp te kyk, te observeer en dit vas te vang,” het hy gesê.

Venter het sy studente vrye keuse gegee om onder die tema “Ons Karoo” te skilder en daar was landskappe, geboue, mense, diere, plante en meer te sien.

Elke nuwe skilder het ook ’n bekendstelling, wat verduidelik waaroor die kunsstuk handel en wat dit vir hulle beteken, by hul uitstalling geplaas.

Die agt kunstenaars is Lou Venter, Anny Meiring, Cathy Dowling, Wanda du Plessis, Salome Goosen, Linke Reed, Nerina Erasmus en Schalk Blom.

You need to be Logged In to leave a comment.