’n PASTOOR van Cradock moes onlangs duiselingwekkende hoogtes betree toe hy, in die vol-voering van sy amp as reklamebordmaker, die name van die Cradock Vier op die 15 meter hoë pilare van die gedenknaalde op die koppie buite Cradock moes opsit.
George Sampson, vervaardiger van naam- en reklameborde, vertel dat hierdie vir hom en sy helpers se eerste ‘hoë’ taak, ’n baie groot uitdaging was.
Dié monument wat al verskeie kere opgeknap en gerestoureer is, sou verlede Vrydag amptelik deur Derek Hanekom, minister van toerisme, geopen word, maar dit is op die laaste nippertjie uitgestel.
“Ons maak gewoonlik padtekens, advertensie- en ander soorte borde wat ons nie tot sulke hoogtes neem nie. Een van my manne het siek geword van hoogtevrees en dit net van opkyk teen die toring voordat hy nog ’n meter moes klim,” het George vertel. “Daar het daardie dag ook nogal ’n fris windjie gewaai, maar ons was darem met ’n harnas aan die pilare vas,” het hy bygevoeg.
Die letters, elk 600 mm hoog, begin 1,5 m van die grond en styg hoogtes van tot 9,2 meter in – afhangende van die lengte van die name en vanne van die Cradock helde, Matthew Goniwe, Sicelo Mhlauli, Ford Calata en Sparrow Mkonto.
Argitekte van Johannesburg het die letters van die name in opdrag van die kontrakteurs gemaak. Al die ander naamborde van die monument wat vervang moes word nadat dit deur vandale afgebreek en verniel is, is deur Samp-son self gemaak en opgesit. Hy het ook die gesigte van die Cradock Vier op die muur van herinnering gesny en vasgesit.
Sy grootste droom, wat al besig is om werklikheid te word, is om sy eie gebou te hê waar hy sy werk kan uitbrei en jongmense kan oplei.
George het vroeër by Korrektiewe Dienste gewerk waar hy baie ondervinding by die jeuggevangenis opgedoen het.“My droom is werkskepping vir jong mense. Ek wil hulle graag in my amp oplei en seuns van gr. 8 af probeer oortuig dat mens ’n goeie beroep in ’n tegniese veld kan volg,” het hy gesê.