’n NUWE resepteboek Kos sonder Grense wat belowe om kosmaak en koekbak vir selfs die grootste leek ’n plesier en ’n sukses te maak, het pas verskyn.
Annelise Swart, die skrywer en samesteller, is al vir jare bekend as een van Cradock se voorste kosmakers. Sy is die eienaar van Annie’s House-gastehuis en maak ook, op bestelling, enige geregte, van ’n eksotiese sjokolade kaaskoek of crème-karamel nagereg tot ’n dosyn frikkadelle in ’n japtrap.
Sy sê die publikasie van haar eie resepteboek is een van die hoogtepunte in haar lewe en ’n antwoord op so baie mense se vrae dat sy tog van haar resepte moet deel.
Die boek is in ’n klomp afdelings ingedeel, van onder meer ontbytkos tot spoggerige terte en koeke, ligte aandetes, groentes en slaaie en selfs kos vir dinees.
“Al die resepte is maklik en eenvoudig met al die draaie en “fancy tricks” uitgesluit. Ek kan enigiemand waarborg dat, as hulle die bestanddele gebruik net soos ek sê – en deur regte botter en regte strooisuiker te gebruik as die resep dit vra – kan niks flop nie,” het sy verduidelik.
Kos sonder Grense word op 2 November by Annie’s House bekendgestel en belangstellendes kan die ope-dag geniet deur te kom vir ontbyt, ’n ligte middagete of ’n koek en tee-middag. Dit is egter belangrik om te bespreek aangesien hulle moet weet hoeveel gaste om te verwag.
Swart is al besig om vir haar eie gesin se seevakansie koekies en malvapoeding te bak. Sy gaan ook vriesbare geregte vooruit maak en raai almal aan wat van plan is om die Kersfeesvakansie te geniet, om dit ook te doen sodat die hele vakansie nie in die kombuis deurgebring hoef te word nie.
Sy vertel dat sy naby Lady Grey op ’n plaas in die berge grootgeword het. Haar ma was besonder gasvry en baie mense het op Sondae kom kuier sodat sy tussen koekbak en kosmaak grootgeword het. Dit was egter haar Ouma Lettie wat van haar ’n fyngebakspesialis gemaak het.
“Ouma het vroeg gesien dat ek nie ’n sportiewe mens is nie en my onder haar vlerk geneem en alles oor bak geleer,” het sy vertel.
Bak sonder Grense is deur Swart self laat publiseer. Die boek is spesiaal so gebind dat dit altyd plat lê en die kok nooit nodig het om met deeghande aan die boek te vat nie. Dit is op baie goeie papier gedruk en ryklik geïllustreer.
Swart sê sy gee aan God al die eer vir hierdie spesiale boek. Bestellings en besprekings kan by Leandré by 048 881 5241 geplaas word.