DIE rugby-, netbal- en hokkiespanne van die Laerskool Cradock het op Saterdag, 14 April aan die begin van die wintersportseisoen na Queenstown gereis vir hul eerste wintersportdag.
Te oordeel aan die opgewonde spelers, afrigters en toeskouers wat die dag terdeë geniet het, word daar baie uitgesien na ’n bedrywige seisoen wat voorlê.
Die sportspanne het uit ’n mistige, nat Cradock vertrek, maar gelukkig het die weer mooi opgeklaar en kon die netbalwedstryde gespeel word. Ongelukkig moes die hokkiewedstryde gekanselleer word as gevolg van die heerlike reën wat uitgesak het.
Netbal:
Die netbalspelers van die Laerskool Cradock het hul staal gewys en onoorwonne uit die stryd getree. Die o.10A-span het 13-0 gewen en die o.10B-span het 6-0 gewen.
Die o.11’s het hul eerste wedstryd met “lang” pale gespeel, maar dit het hul nie gestuit nie. Die o.11A-span het 6-3 gewen en die o.11B-span het 9-0 gewen. Die o.12 span het 5-3 gewen. Die o.13-spanne het skitterend gespeel en CLS se A- en B-spanne het onderskeidelik 20-7 en 28-0 gewen.
Rugby:
Ná die gietende reën was die toestand van die veld bedenklik vir rugby, maar daar is besluit dat die wedstryde sou voortgaan.
Die weersomstandighede het egter nie ’n rol gespeel nie en die Laerskool Cradock se o.13A-rugbyspan het van meet af die veld aan die brand gespeel.
Die Laerskool Cradock het baie goed vertoon en hul teenstanders oorrompel om met 60-0 as oorwinnaars te seëvier.