DIE Demokratiese Alliansie (DA) in die Oos-Kaap het ’n dringende beroep op Fikile Xasa, LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) gedoen om in te gryp nadat die 2018/19 begroting van Inxuba Yethemba-munisipaliteit onwettig aanvaar is.
Ten spyte daarvan dat daar nie ’n kworum teenwoordig was tydens die raadsvergadering van IYM op 29 Mei nie, is die begroting aanvaar. Mid-Karoo Express het in die uitgawe van 31 Mei hieroor verslag gedoen.
In reaksie op verskeie onreëlmatighede wat glo tydens die vergadering plaasgevind het, het die DA reeds op 30 Mei ’n skrywe aan die LUR gerig, maar behalwe vir erkenning van ontvangs, is geen verdere korrespondensie van die LUR ontvang nie.
Ook die Speaker van IYM, Maria Nortjé, het nie gereageer op die DA se skrywe aan háár om ’n nuwe raadsvergadering te belê vóór 30 Junie nie.
Die afsnydatum vir plaaslike munisipaliteite se begrotings was 1 Julie. Indien ’n munisipaliteit nie daarin kon slaag om ’n begroting te aanvaar voor dié datum nie, moes die burgemeester die LUR onverwyld in kennis stel.
IYM staan egter steeds by die besluit wat die nege teenwoordige raadslede (onder aanvoering van burgemeester Ray Shweni) ge-neem het om die 2018/19 begroting te aanvaar.
Sedertdien het IYM ook die begroting gepubliseer en inwoners van Middelburg en Cradock het met ontsteltenis verneem van die ingrypende verhogings in elektrisiteits-tariewe en erfbelasting.
Spanning is besig om op te laai tussen belastingbetalers, sakelui en IYM. Dit het daartoe gelei dat Vicky Knoetze, DA ska-duwee LUR vir COGTA nou ook ’n skrywe aan Xasa gerig het in die hoop dat hy voor 14 Julie ’n dringende raadsvergadering sal belê om alle onreëlmatighede uit die weg te ruim.
Indien bogenoemde proses nie slaag nie, het die DA in ’n mediaverklaring gesê hulle sal onderneem om die munisipaliteit onder administrasie te laat plaas. – ELSABÉ PIENAAR