ELKE mens het maar drome – soos die vaal vroutjie in die voorste ry van die kerkkoor wat tog so graag hoë note soos Erna Zack of Mimi Coertse wil voortbring, of die ou wat op skool mooi prentjies kon teken en vandag nog droom oor die beroemdheid van ’n Tinus de Jongh.
En ek? Ek weet drome is maar net drome, maar wie wil nou nie die gewildheid van Deon Meyer of die Engelse ponde van JK Rowling (sy is glo nou al amper net so ryk soos Queen Lizzie) smaak nie?
Maar voor julle dink Cradock is ’n klein ou dorpie in die Karoo waar talent dun gesaai is, wil ek darem net dit sê: al is hierdie dinge my nie beskore nie, moet julle ons nie skuins kyk wat skryftalent betref nie. O, nee, hulle sê nie verniet ‘daars ink in die Visrivier nie’. Hierdie dorp langs die Groot Visrivier het al baie groot en bekende skrywers opgelewer. Sommige is nasionaal bekend en ander se boeke is in baie tale van die wêreld beskikbaar.
Die bekendste van ons skrywers is natuurlik Olive Schreiner. Sy is sinoniem met Cradock en alhoewel daar destyds oor vroulike skrywers gefrons is, het sy deurgedruk en haar baie bekende Story of an African Farm aanvanklik onder die skuilnaam Ralph Iron ingedien. Dit was die eerste van haar talle manuskripte wat later groot sukses behaal het. Die vermaarde prof. Guy Butler, in latere jare ’n groot naam by Rhodes-universiteit, is natuurlik ook ’n Cradock-seun soos almal wat al sy bekende Karoo Morning gelees het, kan aflei. Sy broer, prof. Jeffrey Butler, wat in Amerika gewoon het, en wie se skryfwerk hier minder bekend is, is natuurlik ook ’n oud-Cradocker.
George Weideman, wat al bestempel is as ’n “swerwer met stories”, is ’n Cradocker wat op 2 Julie 1947 op die dorp gebore is.
En dan is daar natuurlik TO Honnibal, die pionier van humoristiese Afrikaanse strokiesprente wat op 7 Desember 1905 die eerste lewenslig op Cradock aanskou het. Terwyl mens altyd wonder wie eintlik die inspirasie agter die stories van Oom Kaspaas en Nefie, Jakkals en Wolf, hul gesinne en al die ander onvergeetlike karakters was, glo ons hier in die Karoo vas dat die Adoonse in die berge rondom Cradock baljaar het. In dieselfde trant, maar in ’n ernstiger luim, is die feetjies van Ruby Reeves, bekend as “The Fairy Lady” en wie se oorspronklike manu-skripte deesdae in die museum op George bewaar word.
Deesdae het ons vir Clinton du Plessis, ’n skrywer met ’n besonderse moderne aanslag wat al na Nederland genooi is om van sy gedigte voor te lees. Van dié man word daar nog baie verwag.
Cradock het nog gepubliseerde en baie aspirantskrywers wat nog hul merk gaan maak, maar vandag se storie moet ongelukkig nou net hier eindig.