IN die woonbuurt Bezuidenhoutville op Adelaide woon een van die kontrei se langslewende veterane van die tweede wêreldoorlog.
Oom Harry Andrew Douglas, by almal op Adelaide bekend as “Dad”, het die afgelope Dinsdag, 20 Maart sy 98ste verjaardag gevier. Die legendariese oom Harry is op 20 Maart 1920 in Queenstraat op Adelaide gebore. Sy ouderdom ten spyt, is oom Harry se verstand nog helder.
Mid-Karoo Express het kort voor sy verjaar-dag met “Dad” by sy tuiste op Adelaide gaan gesels. Oom Harry het sy laerskool-opleiding aan die N.G. Sendingskool op Adelaide ontvang waar hy sy st. 6-sertifikaat in 1937 verwerf het. Hy was die oudste van sewe broers en een suster en het ná voltooiing van sy skool-loopbaan saam met sy pa bouwerk gedoen.
Vanaf 20 Mei 1941 tot 8 April 1946 was hy onder-korporaal van die destydse “Cape Corps” in die “Natal Mounted Rifles”. In die tweede wêreldoorlog was hy ’n mediese offisier onder die ampstitel van “Stretcher Bearer”. Dit was sy taak om gewondes en dooies uit die voorste gevegslinies te gaan uithaal. Dit was destyds die gevaarlikste werk denkbaar want bomme het voor, agter en langs jou ontplof en die ge- suis van koeëls rondom jou was nimmer ein- digend, aldus oom Harry. Hy moes die gewondes na die mediese ambulanse neem vanwaar hulle na die militêre hospitaal vervoer kon word.
Die oorlog het hom na vele plekke op die kontinent geneem. As jongman het hy onder meer op plekke soos Egipte, Tunisië, Italië, Kaïro, asook Rome en die Vatikaan ’n draai gaan maak.
In een van vele veldslae is oom Harry in die been gewond. Luidens dié veteraan het hy op die slagveld dinge gesien wat geen normale mens wil beleef nie. Vir sy dapperheid ten tye van die oorlog is oom Harry beloon met niks minder as ses gesogte medaljes nie.
Met sy terugkeer van die oorlog is hy op 1 September 1948 getroud met Beatrice Minnie Adriaan en uit hul huwelik is agt kinders gebore wat almal nog leef. Hul vier oudste kinders is ook nou reeds afgetree en trek nou saam met hul gryse vader ouderdomspensioen. Oom Harry se wederhelf het hom op 5 Maart 2003 ontval. Hy spog tans met sestien kleinkinders en elf agterkleinkinders.
Ten spyte van oom Harry se diens vir Volk en Vaderland is hy en sy familie weens die groepsgebiedewet in 1975 van sy geboortegrond ontwortel en op Bezuidenhoutville hervestig. Luidens oom Harry was dit bitter en hartseer maar die destydse owerhede het hom darem drie maande uitstel gegee waarvoor hy hulle later in ’n brief bedank het.
In sy dae was oom Harry ook ’n kranige rugbyspeler wat op heelagter vir sy dorp-span, “United Stars” uitgedraf het. Sy laaste wedstryd het hy in 1960 gespeel.
Hy het sy amp as faktotum by Adelaide-hospitaal nog tot so onlangs as 2011 beoefen toe hy ook nog gereeld op sy fiets in Adelaide se strate gesien kon word. Oom Harry lees nog elke dag sy koerant, woon bidure by en stap ook nog elke Sondag kerk toe. Met Mid-Karoo Express se besoek was hy juis besig om na sy geliefde sportsoort, krieket, op die kassie te kyk.
Kenmerkend van iemand van sy ouderdom sukkel “Dad” bietjie met sy gehoor en raak die kniekoppe ook so dan en wan bietjie stram. Tog sê hy elke dag dankie vir die Here se genade en sien hy daarna uit om oor twee jaar daardie tweede “0” by sy ouderdom te voeg.