Dapper vegtertjie (12) verloor stryd teen kanker

“BOETIE, maak jou ogies asseblief nog net eenkeer vir mamma oop.”.


“BOETIE, maak jou ogies asseblief nog net eenkeer vir mamma oop.”

Dít was die afgelope Saterdagaand ’n moeder se pleidooi aan haar sterwende seun in die Adelaide Provinsiale hospitaal.

Etlike oomblikke later het haar geliefde seun sy laaste asem uitgeblaas. Le-Bron James Dingaan, alom bekend as Elgin, het op dié nood-lottige aand sy uitmergelende stryd teen kanker verloor. Hy was maar ’n skrale 12 jaar oud.

Die ganse Adelaide is tot in sy fondamente ge-ruk deur die heengaan van hierdie moedige seuntjie wat, ten spyte van sy lewensbedreigende siekte, ’n aansporing vir so baie was.

Mid-Karoo Express het in Maart vanjaar oor die inspirerende en moedige kankerlyer berig.

Dit was pas nadat sy linkerbeen net bokant sy knie weens kanker geamputeer is. Inwoners van Adelaide, familie, vriende, mede-leerders en skoolpersoneel van die Primêre Skool Adelaide waar Elgin ’n leerder was, is destyds stomge-slaan oor die energie wat hy ten toon gestel het ten spyte daarvan dat hy met slegs een been en twee krukke oor die weg moes kom. Vir hom was dit meer ’n uitdaging as ’n hindernis.

’n Somber atmosfeer het die afgelope Sondag met Mid-Karoo Express se besoek aan die Dingaan-woning in die Bezuidenhoutville-woonbuurt in Adelaide geheers. Familie en vriende wat hul medelye kom betoon het, het die sitkamer volgepak.

Die hartseer Dingaan-paartjie, Chrizelda (36) en John (43) het vertel hoe Boetie se been kort ná Mid-Karoo Express se besoek vroeër vanjaar weer septies geraak het. In Junie het hy vreeslike rugpyn gekry. Sy ouers het gedink dat dit veroorsaak word deur die krukke waarmee hy rondbeweeg.

Met hul besoek aan ’n onkoloog in Port Elizabeth is egter bevind dat ’n gewas op sy negende en tiende rugwerwel gevorm het. Hy is toe vir twee weke in die Netcare Greenacres-hospitaal opgeneem waar die groeisel verwyder is.

Twee weke ná sy ontslag het sy regterbeen begin lam raak. Hy kon nie daarop trap nie en het weer vir ’n skandering gegaan.

’n Tweede groeisel is op sy rugwerwels ontdek waarvoor hy twee weke lank bestraling ontvang het. Op 12 Julie is hy weer vir ’n ondersoek hospitaal toe en daar is bevind dat nóg twee groei-sels op sy rugwerwel bygekom het. Die kanker het intussen ook na sy brein versprei.

Met die heropening van die skole in Julie kon Elgin nie terug skooltoe gaan nie omdat hy nie meer kon loop of regop kon sit nie. Hy was tot en met sy heengaan aan ’n bed vasgekluister en sy ma moes konstant aan sy sy bly.

Sy ouers het gesê dat hulle hul seun altyd vir sy mooi glimlag sal onthou.

“Hy het Saterdagaand om 23:10 gesterwe, maar ons het die hospitaal eers om 01:00 verlaat. Ons kon net nie van hom afskeid neem nie,” het sy ouers gesê.

“Boetie het nooit oor sy pyn gekla nie. As mense hom vra hoe dit gaan het hy altyd gesê dat hy oraait is. Nou anderdag het hy my vertel dat hy so ’n pragtige droom van ’n kankerlyer-tjie-vriend van hom gehad het wat verlede jaar Huistoe geroep is.

“Hy was só gelukkig en het met vreemde kinders in die hemel gespeel. Hy wou nooit hê ek moes huil nie. Ek glo hy is ook nou by Jesus,” het sy ma gesê.

Volgens sy ouers was hy sterk tot die einde toe en het hy stil en rustig gesterf.

Hy word hierdie Saterdag vanuit die VGK Kerk op Adelaide ter ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.