DIE uiters talentvolle saksofoonspeler Darren Jacobus, waaroor die Mid-Karoo Express vroeër vanjaar berig het, het 14 Julie terug gekeer van New York met ’n swaar sak vol toe-kennings.
Die gemeenskap van Middelburg en Midros het almal hul duime styf vasgehou vir Darren toe hy op 3 Julie vanaf Port Elizabeth die lang vlug aangedurf het na die VSA.
Met hul aankoms in New York is hul hartlik ontvang en het hulle die volgende paar dae besienswaar-dighede soos Central Park, Wall Street, Pools of Remembrance, Raging Bull, Madame Tussauds, Time Square, Grand Central Station en verskeie ander plekke besoek.
Tydens die 45ste Talent America-kompetisie in New York, waarin Darren Suid-Afrika gaan verteen-woordig het, het hy in twee afdelings deelgeneem. Hy het twee items in elke afdeling gedoen het.
In die ‘Variety Musician’-afdeling, het Darren ’n eerste plek met sy item ‘Georgia on my Mind’ ingepalm en ’n tweede plek met ‘Spirit’.
In die ‘Novelty’-afdeling het hy ook ’n eerste plek met ‘Havana’ verwerf en ’n tweede plek met ‘Versace on the Floor’. Hy het dus huis toe gekom met twee goue en twee silwer toekennings.
Die spesiale toekenningsaand wat Sondag, 8 Julie plaasgevind het, was ’n verdere hoogtepunt op Darren se kalender toe hy die toekenning as beste musikant in sy ouderdomsgroep (18-24 jaar) ontvang het.
Darren en sy ouers, Richard en Michelle Jacobus, wil graag van die ge-leentheid gebruik maak om elkeen wat ’n bydrae gelewer of belangstelling in Darren getoon het, te bedank.
Hulle sê hulle is voorwaar dankbaar en trots daarop om te weet dat so baie mense omgee.
Ná afloop van die kompetisie het Darren ook verdere onderhoude en oudisies gehad. Hulle is tans in kontak met Terence Camp (’n prokureur van Budd Larner in New York) om verdere moontlikhede vir Darren daar te bespreek.
Darren is beskikbaar vir optredes en hy kan op whatsapp by 071 889 9351 of jacobusr@webmail.co.za gekontak word.