GRAAFF-REINET staan nie verniet bekend as die Juweel van die Karoo nie. Daar is min ander dorpe in Suid-Afrika wat kan spog met so-veel skatte van kultuurhistoriese waarde, en meer natuurbestemmings as wat mens kan noem.

Dit is ook die tuiste van ’n hele aantal interessante karakters, wat self hul gewig in goud werd is vir dié dorp. Een van hulle is David McNaughton, eienaar van Karoo Connections.

David, wat in Graaff-Reinet grootgeword het, het later jare in Oos-Londen gewoon en gewerk, maar altyd terug verlang na sy tuisdorp. “Ek het een nag ’n droom gehad van ’n ou Landrover, en hoe ek en my pa daarin rondreis, van die veld leef en kamp opslaan op ’n klomp plekke wat ons in my jeug graag besoek het.”

In die laat 1990’s het David en sy gesin teruggetrek Graaff-Reinet toe.

“Ná twee jaar tuis, was ek deeglik bewus van die toeriste wat daagliks soos verlore skape deur die dorp drentel. Ek het weer my droom onthou, ’n moeë ou Landrover gekoop, en die res is geskiedenis!”

Vandag is Karoo Connections se kantore ’n miernes van bedrywighede. Toeriste vanoor die hele wêreld word op begeleide toere ge-neem. “Ons gewildste toere is na die Vallei van Verlatenheid en die historiese Graaff-Reinet-toer, waartydens ons die museums besoek. Ons kry ook heelwat Duitsers en Nederlanders wat geïnteresseerd is in die Anglo-Boere-oorlog.”

Karoo Connections se kantore is ook die tuiste van McNaughton’s Bookshop, waar nuwe en tweedehandse boeke aangekoop word. David, wat nie bang is vir baie hooi op sy vurk nie en boonop net passievol kan praat oor Graaff-Reinet, is ook betrokke by die Seeff-eiendomsagentskap.

Die jongste vertakking van sy besigheid is die Bidvest-motorverhuringsagentskap.

“Die geskiedenis herhaal homself met die motorverhurings en toeristevervoer wat ons verskaf,” lag David. “Ek het op ’n ou advertensie afgekom en besef my oor-oupagrootjie, eienaar van die destydse McNaughton’s Hotel, het ook ’n passasierskoetsdiens van Graaff-Reinet na Port Elizabeth en Richmond bedryf, voordat hy later jare begin boer het.”

Vandag bied Karoo Connections en Bidvest ’n diens van soortgelyke aard, maar gelukkig met meer bestemmingskeuses en teen ’n aansienlik verkorte reistyd! ’n Mens sou dink dat dit naderhand vervelig kan raak om groep ná groep op dieselfde toere te begelei, maar volgens David raak hedendaagse toeriste al hoe meer geïnteresseerd in doendinge wat buite die gewone toeristebestemmings val.

Gelukkig het Graaff-Reinet geen tekort hieraan nie, en David ken vele interessante plekke en mense waar besoek afgelê kan word. ’n Mens kan jou verluister aan sy lewendige vertellings van staaltjies en geskiedenis van die omgewing, en dis duidelik dat David se werk en passie een en dieselfde ding is. Dat David McNaughton diep spore trap in sy geliefde tuisdorp, laat geen twyfel nie.

You need to be Logged In to leave a comment.