OM koeke te versier is haar stokperdjie en, alhoewel sy geen formele opleiding ontvang het nie, kan Desray Britz enige feeverhaal of televi-siekarakter naboots.
Sy het al onder meer ’n Afrika-troukoek en selfs ’n taxi-eienaar se voertuig in suiker geskep.
Volgens Britz het dit alles met haar kleindogter, Jordin (10) se eerste verjaarsdag begin. Alhoewel sy deesdae baie gereeld bestellings ontvang, bly dit, volgens haar, net ’n stokperdjie en geniet sy elke uitdaging wat na haar kant toe kom.
Die sjokolade- en vanieljekoeke wat sy kunstig versier word alles met fondant bedek en getooi en alles is eetbaar. Wanneer sy kolwyntjies versier, kan kliënte kies tussen fondant- of botterversiersel.
“Ek het nog nooit enige opleiding in koekversiering gehad nie, so dit is maar ’n geval van ‘trial and error’,” het Desray gesê. Sy het bygevoeg dat ’n mens baie verbeelding moet hê en dat sy elke moontlike koekversierprogram op televisie kyk.
“Ongelukkig is ek links en is dit vir my moeilik om hulle werk na te boots.”
Desray sê sy verkies om bestellings drie weke voor die tyd te ontvang sodat sy baie tyd het om haar gedagtes te laat gaan.
Daar word net soggens aan die versier van koeke gewerk, want die middae behoort aan haar kleinkinders, Jordin (10) en Aidin (7) wat by haar bly terwyl hul ma, Michelle, by die werk is.
“Smiddae is dit tyd vir huiswerk en speel ek taxi en neem die kinders na al hul bedrywighede,” sê sy.
Desray het twee maande gelede afgetree as oggend ontvangsdame by die Victoria Manor-hotel waar sy vir 22 jaar gewerk het.
“Ek mis nogal die tyd by die hotel en al die nuwe mense wat ek daar ontmoet het. Ek het die lewe by die hotel baie geniet en sal altyd staal- tjies – soos die een van ’n besoeker wat sy troetelslang by ons vergeet het – altyd onthou.”
Wanneer Desray haar gedagtes oor ’n nuwe meesterstuk agterme-kaar het, neem dit haar gewoonlik twee tot drie dae om die koek met handgemaakte versiering klaar te maak.
Daar is ’n spesiale kamer in haar huis wat vir koekversiering afgesonder is. In hierdie vertrek is daar hulpmiddels by die dosyne.
Desray sê haar dogters, Natasha en Vicky in KwaZulu Natal en Michelle wat op Cradock woon, loop nooit by enigiets verby wat dalk hul Ma se stokperdjie kan vergemaklik of aanhelp nie. Daar is selfs ’n lugverkoeler in die ‘versierkamer’ sodat die fondant nie dalk kan smelt nie.
Desray het al bestellings van Tarkastad, Graaff-Reinet, Queenstown, Port Elizabeth en Bloemfontein ontvang.