DIE Oos-Kaap het sagte, deurdringende reën nodig om werklik ’n duik te maak in die voortslepende, kritieke droogte wat die provinsie al vir sowat drie jaar teister.
Met die herfs wat reeds aangebreek het heers ernstige kommer oor die winter wat voorlê.
Dit is die mening van Francois du Toit, voorsitter van die provinsiale tak van die SA rooi-vleisprodusentevereniging (OKRPA).
Hy het gesê dat hoewel produsente altyd dankbaar is vir elke soort reën wat uitsak, het donderbuie ’n mindere impak op weiding.
“Donderbuie maak eintlik net die damme vol. Weidingstoestande waar dit nog nie ge- reën het nie, of weinig gereën het, gaan steeds agteruit omdat die bossiekomponent vrek,” het hy beklemtoon.
Die oorlewing van die winter gaan afhang van diere se voedingstatus. As hulle toestand swak is, is die kans groot dat baie van hulle mag vrek. In gebiede waar die reën laat kom en die groeityd van die veld en aangeplante gewasse nie meer so lank is nie, kan daar ook probleme ontstaan.
Baie boere in die Oos-Kaap, waar nog geen of baie min reën voorgekom het, voer hulle diere egter nie meer vir produksie nie, maar vir oorlewing.
Die droogte is veral steeds kritiek aan die westekant van die provinsie en hoofsaaklik Steytlerville en verder suid. Die reën wat wel geval het, het kol-kol geval en dus is daar nog streke wat bitter swaar kry.
“Die millimeters wat gemeet word verskil geweldig baie. In sommige distrikte is die son daarby nog verskriklik warm, en die bietjie vog wat in die grond is ná so ’n reën, word weer weggebrand.
“Daar is steeds weinig gebiede in die Oos-Kaap waar dit nie nodig is om die vee te voer nie.
“In die gedeeltes wat goeie tot redelike reënval gehad het, is die vooruitsigte baie goed.”
Volgens Du Toit hang alles af van hoeveel dit gereën het en wat die verspreiding van die reënval is, asook die mate van warm temperatuur wat gaan heers voor die winterkoue met mening op die provinsie toesak.
Die veld het ’n sekere temperatuur nodig om te groei en sekere plante is ook nog dagligsensitief om te kan groei, so hulle het slegs ’n beperkte groeiseisoen. Produsente hoop gevolg-lik op reën om die vogstatus in die grond op te bou voor die winter, wat veral die boere met bossievelde baie behulpsaam gaan wees.
Du Toit het gesê die beskikbaarheid van water het sover net in sommige distrikte verbeter as gevolg van die reën, en die nood is op sy ergste in onder meer die distrikte van Willowmore, Jansenville, Steytlerville en Rietbron.