TWEE weke gelede, op 16 Junie, het ’n groep van sewe voertuie van Cradock se 4×4-klub ’n dagroete in die Bamboesberge tussen Hofmeyr en Tarkastad gaan ry.
Die kruin van die Bamboesberge rys 1 252m bo seespieël en die pad is vol steiltes en oor massiewe kranse.
Die roete is op die plaas van Albert van Heerden en, volgens die deelnemers, nie baie teg- nies nie, maar is dit ’n goeie grondvryhoogte en 4×4-laetrek ’n vereiste.
Die roete bied asemrowende uitsigte oor die Karoo en is ’n voldag se ry. Albert het hulle vergesel om die geskiedenis te vertel en al die mooi plekke uit te wys. Die roete volg die voet van die Bamboesberge en klim dan geleidelik na bo naby Vanzylskop.
“Die plasies in die kloof op kon aanvanklik net per voet bereik word en die voetpad wat deur hulle gebruik is, is nou nog te sien,” het Albert vertel. Hy het bygevoeg dat die pad tot bo-op die berg eers onlangs gemaak is. Daar is ook ’n ou ossewaroete oor die berge wat die heel eerste boere gebruik het om daar ’n bestaan te maak.
Die 4×4 ryers het gesê hulle was ook bevooreg om ook heelwat wild te sien.
Albert het hulle ook gewys waar die sogenaamde “Hofmeyr-kopbeen”, wat glo 36 000 jaar oud is, gevind is.
Die roete het ’n ryk Anglo Boere-oorlog ge- skiedenis. Volgens oorlewering het die Boere ’n skuur in die Bamboesbergkranse gebruik as wegsteekplek vir saals, tooms en ander proviand wat die skuur sy naam, Die Kelder, gegee het. ’n Engelse soldaat is ook glo daar doodgeskiet.
Die groep was ook bevoorreg om te gaan kyk na waar daar ’n enkele groepie rare broodbome bo in die berg groei.
Die manne het bevoorreg gevoel om tot amper bo-op die kranse te ry en die wat wou, kon ook die hoogste punt uitklim vir ’n nog beter uitsig. “Dit was lekker om die dag by so ’n mooi en onherbergsame deel van die land te kon deurbring,” het van die manne gesê.