MET die bibberende koue naweek wat ons agter die rug het, was ’n warm koppie koffie – regte Boeretroos – net wat ’n mens nodig gehad het.
In die huis waar ek grootgeword het, het ons nooit koffie gedrink nie want, glo dit of nie, my ma het nie van die reuk van koffie gehou nie.
My liefde vir koffie het ek by my pa geleer want ons twee het partykeer skelm koffie gaan drink. Maar toe kry hy skielik ’n hartaanval en van toe af is ons twee se koffiedrinkery neusie verby.
Ek kan so goed onthou hoe ons altyd op pad plaas toe by ’n huisie (in daardie dae is die mense bywoners genoem) verby gery het en dan het my ma soos klokslag gesê, “Foeitog, die arme mense het net swart koffie en droë brood.”
My mond, as kind, het by die woorde altyd gewater want wat is nou lekkerder as swart koffie en ’n lekker stuk bruin brood?
Ons Boeretroos het ’n lang geskiedenis wat terugdateer na 700nC. Daar word vertel dat ’n sekere man met die naam van Kaldi van Ethiopië baie gefassineerd was oor sy bokke en so plesierig geraak het nadat hulle die bessies van ’n sekere boom geëet het.
Hy het toe self van die bessies gekook, die water gedrink en dit heel aangenaam gevind. ’n Monnik-vriend van hom was dankbaar toe Kaldi dit met hom deel aangesien hy al baie lank gesoek het na iets om hom wakker te hou wanneer hy nagte deur bid.
Koffie is eers in die 15de eeu na Yemen, Egipte en Turkye uitgevoer. In Egipte is dit dadelik verbied aangesien die opkikkerende effek daarvan die gepeupel opstandig gemaak het.
Baba Budan, ’n Sufi-heilige, het koffieboomsade na Indië gesmokkel en in die 1600’s is lote van koffiebome ook na Holland gesmokkel. Die eerste bome het gevrek, maar vanaf 1704 kon hulle dit darem in glashuise kweek.
Koffiehuise (vir mans) was teen 1674 só gewild in Engeland dat hulle vroue begin betoog het om koffie te laat verban.
Brasilië, vandag die grootste koffieprodusent in die wêreld, het sy sukses te danke aan die sjarme van ’n Brasiliaanse kolonel wat op besoek was aan Frankryk. Toe hy verbied word om koffieboomlote op ’n regmatige manier vir sy land te kry, het hy eenvoudig ’n affair met die Franse goewerneur se vrou begin . . .
Amerika, vandag die wêreld se grootste verbruiker van koffie, het dit alles te danke aan die sogenaamde Boston-teeparty van 16 Desember 1773 toe betogers ’n hele besending tee van Engeland af in die see gegooi het weens ontevredenheid oor die hoë belasting wat daarop gehef is.
’n Paar interessante feite oor hedendaagse koffie is dat die eerste perkoleerder in 1818 in Parys vervaardig is, dat Nescafé van 1900 op die mark is, dat die eerste espressomasjien in 1901 in Italië vervaardig is en ook dat koffie die grootste handelskommoditeit in die wêreld is.