Die mooiste vrou in die wêreld . . .

EEN aand op Port Nolloth was daar ’n klop aan die voordeur. Dit was so ná tien die aand. Ons was op pad bed toe.


EEN aand op Port Nolloth was daar ’n klop aan die voordeur. Dit was so ná tien die aand. Ons was op pad bed toe.

Ek het die voordeur oopgemaak en tannie John het daar gestaan – papnat oë en skoon verwese van droefheid. Haar ou man, oom John, so vertel sy vir my so tussen die snikke deur, was weer dronk en het haar geslaan. En hy het haar uit die huis gejaag. Al wat sy het, is die klere aan haar lyf. Geen heenkome nie. Toe ek vra of oom John nou by die huis sal wees, het sy gesê dat hy sekerlik maar weer hotel toe is.

Ek neem haar toe terug na haar huis. Daar het ek en sy gesit en wag tot ou John sou opdaag. Seker so teen halftwaalf die aand daag hy daar op. Blink gedrink. En toe hy ons sien, raak hy ook sommer baie aggressief. “Wat het ek met hulle twee se huishoudelike sake uit te waai?” het hy my toegesnou. Maar ek slaag eindelik daarin om hom te kalmeer en ons gesels. Maar die ou staan later op en stap die huis uit. Ek het gemeen dat hy weer sou terugkom. Maar nee, hy kom nie.

Ek gaan buite toe om hom te gaan soek. Ek het later selfs met die motor op en af deur die dorp gery, maar van John was daar geen spoor nie. Uit radeloosheid ry ek toe na die polisiestasie. Ek het dikwels laat saans daar ’n draai gaan maak om die manne aan diens sterkte vir die nag toe te wens.

Gewoonlik het hulle dan vir ons koffie gemaak. Toe ek by die polisiekantoor kom, wie sal ek daar kry? Oom John wat by ontvangs op die bank lê en slaap. Moet ek hom wakker maak, of moet ek maar eerder slapende honde met rus laat? Maar ek besluit dat ek dit gaan waag. Wonder bo wonder was die ou toe heel kalm, al stink hy soos ’n wynvat.

Ná ’n paar bekers sterk swart koffie, vra hy of ons twee ’n draai kan gaan ry. Ons het seker so tien kilometer op die Alexanderbaai-pad uitgery. Ek het later stilgehou en ons het lank en indringend gesels. Hy moes kort-kort uitklim omdat die baie voggies sy tol begin eis het. Seker ná meer as twee uur sê hy dat ons nou maar huis toe kan gaan.

By die huis aangekom, staan die tannie op die voorstoepie – pajamas en japon aan en krullers in haar hare. Nou moet ek sê dat sy nou nie juis sal deurgaan as een van die aantreklikste vroue wat ek al gesien het nie. Die teendeel is eerder waar.

Toe ons in die huis kom, gryp ou John haar vas en soen haar vurig. Hy draai so om na my toe, met sy hand om haar lyf, en sê: “Ai, is sy darem nie die pragtigste vrou in die hele wêreld nie?” Ek het geen kommentaar gelewer nie.

Hulle het later weggetrek uit Port Nolloth. Jare later toe ek in die Kaap gewerk het, het ek hom eendag in Kaapstad weer raakgeloop. Die eerste wat hy my vertel was dat hulle nog steeds bymekaar is en dat hy verlos is van die drankprobleem.

You need to be Logged In to leave a comment.