EK weet nie of dit vandag nog die gebruik is nie, maar toe ek nog op skool was en ook tydens die eerste jare van my volwasse lewe, was dit op die platteland ’n gevestigde gebruik. Die skoolklas se meneer of juffrou het aan die begin van die jaar ’n besoek gaan aflê by die ouerhuis van elke kind in sy of haar klas. Maar dan was daar ook die gebruik dat die skoolhoof en mevrou Skoolhoof deur die loop van die jaar al die ouers van die kinders in sy skool gaan besoek het.
Die skoolhoof was nog van daardie stoffasie. Pligsgetrou – selfs beter as die predikant – het hy vroeg in die jaar begin om sy ouers stelselmatig te gaan besoek. By sommige het hy langer as by die ander gekuier, maar niemand is oorgeslaan nie. Natuurlik was dit nie ’n vrugtelose besoek nie.
As mnr. en dr. Skoolhoof die aand by die huis kom, moes hulle die boude vleis en mandjies vrugte en groente aflaai en versorg. En ’n paar stukkies biltong en droë wors, as dit jagtyd was.
Mnr. en mev. Skoolhoof was daardie dag weer iewers in die distrik. By die besondere huis was daar ’n nuwe aankomeling – die vierde een. Die vroutjie was maar ’n paar weke by die huis. En die nuwe aankomeling was behoorlik ’n handvol. Die ander kinders is uitgestuur om te gaan speel. Die gesels wou nie lekker vlot nie. Die baba was knieserig en sy moes kort-kort aan die kindjie aandag gee. Maar sy vra toe later vir mnr. en mev. Skoolhoof of sy vir hulle tee of koffie kan aanbied. “Maar natuurlik, Mevroutjie, tee sal nou baie lekker smaak.”
Die huisvrou het opgestaan en kombuis toe gegaan. Mnr. Skoolhoof het so gesit dat hy kon sien wat in die kombuis aangaan. Die vroutjie het die koppies uitgesit en die teewater op die stoof gesit. Toe die water kook, het sy dit in die teepot gegooi en gewag dat dit moet trek.
Intussen was daar baie onderbrekings as gevolg van die baba.
Einde ten laaste daag sy met die skinkbord op. Meneer staan galant op en neem dit by haar en bedien die vrou en vir mev. Skoolhoof. Hy plaas die skinkbord op die koffietafeltjie en gooi melk by sy tee en twee lepels suiker.
Hy gaan sit toe weer, maar hierdie keer op ’n ander stoel. Konsuis omdat dit geriefliker sit.
Nie Mev. Skoolhoof of die gasvrou het gesien dat hy ongemerk sy tee in die potplant langs die stoel gooi nie, mev. Skoolhoof het smaaklik haar tee gedrink.
En toe sy klaar is, vra die gasvrou of sy nog ’n koppie tee wil hê. “Maar natuurlik sal my vrou nog ’n koppie wil drink,” antwoord mnr. Skoolhoof sommer namens sy vrou.
So gesê, so gedaan. Mev. Skoolhoof het haar tweede koppie tee net so smaaklik gedrink. Mnr. Skoolhoof vra toe of sy vrou vir nog tee lus is, maar sy sê nee. Sy het nou genoeg gehad. En sy kyk hom fronsend aan asof sy wil vra, wat gaan met jou aan?
Op pad terug vra mev. Skoolhoof vir mnr. Skoolhoof waarom hy so namens haar besluit het dat sy ’n tweede en selfs derde koppie tee moes drink, maar hy, wat gewoonlik twee tot drie koppies tee op ’n slag drink, het net met een volstaan?
Meneer vertel toe wat hy in die kombuis gesien gebeur het.
Toe die gasvrou die teekoppies op die skinkbord uitgepak het, het sy rondgekyk vir ’n teedoek. Maar daar was nie een byderhand nie. Toe gryp sy sommer een van die baba se doeke wat op die grond gelê het om die koppies mee uit te vee.
Die pad terug dorp toe het ewe skielik baie lank geword. En die atmosfeer in die motor het tot by vriespunt gedaal.
Ek sal my ook nie verbaas as mnr. Skoolhoof daardie aand in sy studeerkamer moes slaap nie.