BTW gaan weer op en die prys van goedere gaan styg. Daar is nie ’n einde aan dit alles nie. Ek weet jy gaan sê: “Ag wat, dis maar net een rand op honderd rand,” maar ek sê vir jou, jy gáán dit aan jou bas voel. Om nie eers te praat van die sogenaamde sondebelasting én brandstof én al daai dinge nie.

Ek is natuurlik oortuig dat dit alles met Daan Desimaal begin het. Is dit wéér sy skuld dat alles skielik dubbeld soveel as voorheen kos?

Ek wonder wie onthou nog Daan Desimaal die Rand Sent-Man wie se deuntjie ons in 1961 tot vervelens toe oor die radio (ja, kinders, daar was toe nog nie televisie in Suid-Afrika nie) gehoor het. Hy was die mannetjie wat gesorg het dat die koste van absoluut alles oornag verdubbel het!

Al verskil tussen dié Daan en die man wat ons vandag Meneer Inflasie noem, is dat Daan toe darem ook so gaaf was om ons geld te verdubbel – iets wat Meneer Inflasie natuurlik glad nie doen nie.

Want sien, een pond wat jy op 12 Februarie 1961 in jou hand gehou het, het die volgende oggend skielik twee rand geword. Dit was die tyd toe pennies sente geword het en jou sikspens skielik net vyf sent werd was.

In Die Burger van destyds het die redakteur die lesers breedvoerig oor Suid-Afrika se nuwe geldeenheid ingelig. Die omskakeling van ponde na rande is duidelik uiteengesit, en met voorbeelde van pryse in albei geldeenhede kon omskakeling maklik verstaan word.

So staan in dié koerant dat wit brood, wat toe elf pennies gekos het, na desimalisasie nege sent sou kos, dat kaas van twee sjielings en elf pennies tot 29 sent sou styg, biefstuk van twee sjielings en tien pennies tot 28 sent en bier van een sjieling en twee pennies tot 12 sent per bottel.

Die Burger het toe 2½ sent en die Huisge-noot tien sent gekos.

Wiskunde is in die maande ná desimalisasie baie goed opgeskerp, want pryse van artikels, of dit nou 20c vir lekkers of R20 000 vir ’n huis was (ja, dit was toe die prys vir ’n heel aansienlike woning) is dadelik in ponde, sjie-lings en pennies omgeskakel sodat die koper darem kon weet of die produk baie duur of dalk ’n winskopie was.

Hierdie berekeninge het my laat dink aan Suid-Afrikaners in die buiteland wat gereeld pryse omskakel na rande en dan met ’n skok besef dat die lekker glasie Suid-Afrikaanse wyn nou net meer as R40 gekos het.

Vandag is dit net in muntversamelings dat ’n mens nog ponde, sjielings en pennies sien. In die goeie ou dae toe geld nog geld was, was daar selfs half- en kwartpennies in mense se beursies.

Van daardie dae se tiekies (2½ sent) – veral dié van 1931 toe daar glo minder as 150 gemunt is – is vandag baie skaars en sommer ’n klomp geld werd.

’n Bygeloof uit daardie dae was dat groot geluk na jou kant sal kom as jy ’n muntstuk optel. Vandag is geld so min werd dat daar baie maal tien- en vyfsentsukke op die sypaadjies rondlê.

Sente is glad nie meer te sien nie, maar winkeliers het nog nie afgeleer om pryse soos R19,99 of R999,99 te merk nie. Omdat hulle nie meer sente het om vir kleingeld uit te keer nie, kry jy dan ’n ewe nuttelose tiensentstuk in die hand.

You need to be Logged In to leave a comment.