Dis nag by Cradock se treinstasie

Cradock-stasie, op die hooflyn na die Noorde, is ná jare van helder elektriese lig, weer terug by kerse en blakers en nou en dan ’n klein paraf-ienlampie.


Cradock-stasie, op die hooflyn na die Noorde, is ná jare van helder elektriese lig, weer terug by kerse en blakers en nou en dan ’n klein paraf-ienlampie.

Met Mid-Karoo Express se besoek aan die stil stasie was nie een van die personeellede wat aan diens was, bereid om te gesels nie. Dit was egter moontlik om vas te stel dat die elektriese kabel wat die stasie se lig moet voorsien, reeds in Mei vanjaar deur kabeldiewe gesteel is en nog nooit vervang is nie.

Dit is nie net die perron wat in donker gehul is nie, maar ook die wagkamers en kaartjiekantoor. Na verneem moet die middagtrein van Johannesburg om 16:00 op dié dorp aankom wanneer dit gelukkig nog helderlig is, maar as die trein laat is, word probleme vir passasiers wat wil af- of opklim en die mense wat hulle stasie toe bring, veroorsaak. Die oggendtrein vanaf Port Elizabeth moet 04:40 op Cradock aankom wanneer dit in die winter nog pikdonker is.

Volgens ’n anonieme inwoner van die dorp wat onlangs sy neef stasie toe moes neem, was dit pikdonker op die stasie en baie gevaarlik vir passasiers wat op- of afklim. Passasiers loop ook die gevaar om beroof te word. Twee weke gelede was daar ook weer drie mans betrap wat besig was om elektriese kabels te steel.

Passasierstreine kom op Sondae, Woensdae en Vrydae op Cradock aan. Geen probleme word met goederetreine ondervind nie, want hulle stop glo lankal nie meer op Cradock nie.

Lindelo Matya, streeksbestuurder van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), het aan Kailin Daniels vertel dat die probleem ontstaan het as gevolg van kabeldiefstal op Cradock-stasie wat in die verlede al verskeie maal herstel was.

“Die kragtoevoerboks wat voorsiening maak vir elektrisiteit, sal na ’n veilige gebied geskuif word om toekomstige kabeldiefstal te vermy. Prasa het tans nie die nodige fondse om konstant die kragtoevoerboks te herstel nie,” het Matya gesê.

’n Voorstel vir ’n permanente oplossing is ingedien wat teen die einde van vandeesweek afgehandel sal word, aldus Matya.

Hy het belowe dat die probleem binne drie tot vier weke opgelos sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.