DIT EN DAT-tuisnywerheid op Cradock wat daarop aanspraak maak dat dit een van die oudstes van sy soort in die land is, vier volgende jaar sy goue verjaarsdag.
Dit was in 1969, toe die wêreld besig was met baie ander dinge, dat sewe ondernemende plaasvroue uit die Samenkomst-wyk byme- kaar gekom het om die tuisnywerheidbedryf te betree.
Dit en Dat is amptelik op 1 Julie 1969 in die lewe geroep. Die eerste winkel was in ’n klein geboutjie in Frerestraat en toe die deure vir die publiek om 05:00 van daardie yskoue wintersoggend oopmaak, was die vroue verstom toe kliënte reeds so vroeg met mandjies en koekblikke op hulle toesak. Om 08:30 was alles uitverkoop.
Die winkel was destyds net op Vrydae oop en twee lede het lustig pannekoek gebak terwyl die ander hul kliënte bedien het. Soms is ’n vrag groente sommer van die bakkie af uitverkoop voordat dit afgelaai kon word.
Destyds was groente, vrugte en blomme in seisoen die beste verkopers en moes die deure by geleent-heid toegemaak word om die eerste sarsie kopers weg te help.
In ’n tyd toe groot koeke 70c, be-skuit 20c per pak en ’n pond botter 35c gekos het, was die winkel se profyt een jaar R600. Een van die baasbaksters onthou dat haar eerste maandelikse tjek R7,50 was en dat die voorsitter haar berispe het dat sy te veel bak.
Een van hul gereelde kliënte was ’n baie bevoorregte hond wie se baas net ’n sekere nommer bakster se beskuit vir hom gekoop het. Hy wou glo geen ander beskuit eet nie. En groot was die konsternasie toe ’n kat, met ’n spesiale liefde vir skuimpies, een nag die winkel ingesluip en ’n proeseltjie van elke suurlemoenskuimtert op die rak geneem het.
Dit en Dat het weer ’n keer verhuis na die hoek van Queen- en Frerestrate voordat hulle hul huidige perseel in Adderleystraat betrek het.
Waar die winkel in die beginjare veral op plaasprodukte gefokus het, word daar nou ’n groot verskeidenheid artikels, insluitende gevriesde produkte, geskenke, droë vrugte, biltong en droëwors verkoop. Allerlei plaasprodukte is nog op die rakke, maar hulle word oorskadu deur pragtige koeke, terte, koeksisters, kleinkoekies en ’n wye verskeidenheid soutigheid. Van die baksters maak ook verjaardagkoeke volgens ’n spesifieke tema terwyl Pieter Kruger sorg vir pragtige handgemaakte geskenkkaartjies.
Betsie van Jaarsveld is al 30 jaar lank lid van Dit en Dat en lewer nog gereeld groot- en kleinkoekies, be-skuit en die koeksisters waarvoor sy bekend is. Vossie en Rika de Vos is die onderneming se baasbakkers. In hulle huis word gereeld 25 dosyn eiers, 25kg suiker en 62kg meel per week in smullekker items omgetower.
Volgens die lede doen die winkel nogsteeds baie goed en is daar elke dag ’n deurlopende aanvraag na produkte. Daar is nou ook ’n wolwinkel en bloemiste in dieselfde perseel en indien ’n kliënt inkom vir een, ondersteun hy heel moontlik ook die ander, sê hulle.