Dit was beslis nie naggeluide van Lisa se klavier nie

DIE slag wat die stilte van die laatnag verbreek het, het almal in die huis met ’n skok wakker geskud.


DIE slag wat die stilte van die laatnag verbreek het, het almal in die huis met ’n skok wakker geskud.

Dit was veel erger as die klapgeluid van die nok van die sinkdak van ons huis partykeer op ’n baie koue wintersnag. Of die keer toe ek die houtstoof te kwaai gestook het. Die honde het ’n keer of wat geblaf, daarna was dit weer stil. Ek het nog so gelê en wonder watse geluid dit nou eintlik was, en wat die oorsaak was, toe was dit weer so. ’n Harde klapgeluid, amper soos ’n kanonskoot.

In die stilte van die nag, so omring van die veld, klink alles mos veel harder en duideliker as in die dag. Hier in die laatnag is tot die krieke en die paddas stil. Alles en almal slaap. Tot die veraf geblaf van vreemde honde het lankal opgehou.

Dit was net so stil die oggend toe ek die stoof so kwaai gestook het. Pa het gewoonlik hier kort ná vieruur opgestaan en die stoof aan die gang gekry om water vir sy eerste koffie te kook.

Maar dié besondere oggend was ek hom een voor en het besluit ek gaan die stoof solank brand maak. Maar die hout was klam. Ek het die hout netjies gepak, mooi met koerantpa-pier onder die hout en dit aan die brand ge-steek. Maar nee, die hout wou nie brand nie.

Weer papier onder die hout gesit – en so ’n bietjie paraffien op die hout gegooi en aan die brand gesteek. Ook niks gehelp nie. So het ek drie of vier keer probeer totdat ek besluit het genoeg is genoeg.

Ek het ’n yslike klomp paraffien op die hout uitgegooi, teruggestaan, ’n vuurhoutjie getrek en op die hout gegooi. Die paraffien het met ’n geweldige slag aan die brand geslaan. So geweldig dat al die stoof se ronde plate uit hul gate geruk is.

Pa was binne sekondes in die kombuis, maar gelukkig is geen blywende skade aangerig nie – nie aan die stoof nie en ook nie aan my nie.

Maar terug na die slag wat ons almal so wakker geruk het. Ná die derde of vierde keer dat die harde slag so deur die nag weergalm het, het ek en Pa besluit ons moet gaan kyk wat aan die gang is. Ons is toe die nag in, elkeen met ’n flits gewapen om hierdie euwel die hoof te bied.

Ons was skaars buite en ons oë nog besig om aan die flou lig van die maan gewoond te raak toe die harde slag weer opklink. Sommer naby. En sommer vrek hard.

Wat ons toe wel kon bepaal was dat dit hier op die werf was, in die rigting van die buitegeboue. En dit was beslis nie die naggeluide van Lisa se klavier nie!

Daar was tog niks wat kon ontplof nie. Ons het in die rigting van waar die slag vandaan gekom het begin beweeg toe ons skielik in die flou skynsel iets sien beweeg gevolg deur ’n harde slag.Toe, in die lig van ons flitse, kon ons die oorsaak van al die geraas uitmaak.’n Bul. ’n Vreemde bul wat sy frustrasie op ’n sinkplaat watertenk uithaal. ’n Watertenk soos wat mens tans in die droogte nodig het om reënwater in op te vang, sou dit reën.

Die bul, ’n Jersey, was duidelik omgekrap, en ’n omgekrapte Jerseybul is tien keer erger as al die Blou Bulle saam. So, wat nou? Maar die bul, wat op die een of ander manier by ’n buurman se hek uitgekom en toe padlangs koers gekry het totdat dit by ons hek ingekom het, het ná nog so ’n paar stormlope en kopstampe teen die tenk besef die tenk wil nie te-rugbaklei nie, en die aftog geblaas.

Nou moes ons die dier weer by óns hek uit kry. Wat nogal nie maklik was nie. Want toe ons die bul probeer verjaag was hy gereed om sy frustrasie op ons uit te haal. Maar gelukkig was ons baie meer beweeglik as die tenk.

Ná ’n lang gesukkel het ons daarin geslaag om die bul se radar in die rigting van die hek te fokus en ná ’n paar probeerslae by die hek uit te jaag. Die bul het in die regte rigting pad af koers gekry, en hopelik veilig tuis gekom.

Ek en Pa is terug die huis in en het gou koffie gemaak. Maar Pa had self die stoof brand gemaak . . .

You need to be Logged In to leave a comment.