Doodgewone ma’s verdien ook plekkie in die kollig

DIE Guiness Book of Records is fassinerend. Rekords van alle sportsoorte, asook ander items wat wissel van bisar tot wonderbaarlik word hier geplaas.


DIE Guiness Book of Records is fassinerend. Rekords van alle sportsoorte, asook ander items wat wissel van bisar tot wonderbaarlik word hier geplaas.

Die rekords wat deur moeders gehou word, het alles met babas te doen. Die meeste babas (69), die swaarste, en so gaan dit aan.

Waar’s die rekords van gewone ma’s dan? Alle ma’s verdien mos darem hul plekkie in die kollig.

Kom ons kyk na ’n doodgewone mamma. Let wel, sy werk nie. Gewone huisvrou. Salaris- en vakansie-loos. Haar kroos: twee studente en een skolier. Dis vakansie en almal sien daarna uit – om verskillende redes natuurlik. Ma om te werk en kinders om te eet en slaap. Ma is paraat met ellelange lysies om die vakansie vir almal te laat vlot verloop.

Ma se “vakansiaanse” kalender skop in en nou begin haar tyd- spoed-, uithou-, tredhou-, moedhou- en bekhourekords stilletjies en sonder fanfare. Gewapen met voorskoot en houtlepel sorg sy dat die koskaste boepensvol gepak is en die blikke met tuisgebakte eetgoed kreun.

Sy sorg vir snoesige, tra-la-la vars beddens en genoeg drink- en eetgoed om die sprinkane en hulle se vriende se kake kouend en hul brullende mae vol te hou.

Haar kinders swerm vanuit alle windrigtings huis toe. Hul koffers en wasgoedsakke lê opgeblaas soos koeie wat die verkeerde goed gevreet het, die kamers vol. Sus soek “gou” ’n paar nuwe rokkies en Daan ’n sweetpak of drie wat “Ma mos sommer ‘gou’ aanmekaar kan slaan” en “…o ja, my rugbytrui se nommer is afgeskeur,” stapel Boetman op.

In hul oë is ma “Wonder Woman”. Haar seekatarms rank hier en daar – stik nate toe of in of uit, laat some sak of styg. Sy spin in ’n versapper . . . hoor stemme: “Ma, Mamma, Moeksie, Vrou, Miaau en Woef”. Sy verswelg onder meters lap en kom so dan en wan op vir suurstof ter oorlewing.

Die meeste items op ma se lysies is deurstreep dan spartel sy nog met die wasgoed. Baie dinge het Prediker se verstand te bowe gegaan, maar hierdie berge wasgoed kelder ma se verstand totaal en al. Hoe verander helder kleure so gou in vuilgrys? Hoe op aarde wankel gister se kraakvars, nuwe klere ewe skielik op die randjie van vodde-wees?

Wanneer spoke en vampiere loop, sleep ma haar kragtelose liggaam bed toe. Soete slaap ontwyk haar egter, want sy hoor hoe die leë kosblikke gil om hervulling vir dagreise terug na plekke waar daar nie vleispotte is nie.

In ’n asemteug is die huis leeg. Ma juig, sy het oorwin. Haar rekords is geskryf. Nie in Guiness se boek nie, maar in haar hart.

Ma tref die kollig in haar gesin se harte. Het Kahlil Gibran dan nie gesê dat liefde werk sigbaar gemaak is nie?

  • Gelukkige Moedersdag aan al die Mid-Karoo Express se mammas!

You need to be Logged In to leave a comment.