RESEP: Dorothea se lipleklekker hoenderpastei

Dorothea Slabbert is al 50 jaar getroud met Koos Slabbert, afgetrede houtwerkonderwyser, en hulle bly al net soveel en ’n bietjie meer jare op Somerset-Oos.


Dorothea Slabbert is al 50 jaar getroud met Koos Slabbert, afgetrede houtwerkonderwyser, en hulle bly al net soveel en ’n bietjie meer jare op Somerset-Oos.

Hulle het twee seuns en ’n dogter en vyf kleinkinders.

Dorothea Slabbert FOTO: VERSKAF

Dorothea is ’n ywerige voëlboer en verkoop voëls regoor die land. Sy hou van kook, koekbak, toffie-appels maak, naaldwerk en brei- en hekelwerk en verder boer sy ook in haar tuin.

Sy is op die beheerraad van die plaaslike tehuis vir bejaardes, Huis Silwerjare, en staan ook haar skoene by die kerk vol. Sy deel graag haar resep vir hoenderpastei met die lesers.

Bestanddele:

’n Groot, gekookte hoender met sout en peper – fyn gemaak en bene verwyder.

’n Bietjie olie om in te braai.

2 klein uie, in ringe gesny.

200g ontbytspek, in stukkies gesny.

500g bevrore, gemengde groente

50ml botter of margarien

1 pakkie sampioensoppoeier

250ml hoenderaftreksel

250ml melk

10ml gemengde kruie

Die sap van een suurlemoen

1 rol bevrore skilferkorsdeeg wat ontdooi is

1 eier

Dot se hoenderpastei. FOTO: VERSKAF

Metode:

1. Voorverhit die oond tot 180 °C.

2. Braai die uie en ontbytspek in die olie. Voeg bevrore groente by en kook tot gaar, maar bros.

3. Voeg nou die gaar hoender by en braai ’n rukkie tot warm.

4. Smelt botter of margarien en voeg soppoeier by. Roer tot gladde pasta gevorm is.

5. Voeg melk en hoenderaftreksel stadig by en roer gedurig tot die witsous kook en verdik.

6. Geur die witsous met kruie (eie keuse), suurlemoensap, sout en ’n knippie rooipeper na smaak.

7. Voeg die hoender- en groentemengsel by die witsous.

8. Meng goed en skep in 24cm tertbord.

9. Rol die skilferkorsdeeg effens dunner uit. Sny in repe en vleg ’n traliewerk oor pastei.

10. Verf die eiergeel oor die pastei en bak vir ongeveer 15 tot 20 minute of tot die kors mooi bruin is.

Hierdie resep is genoeg vir 6 tot 8 mense.

You need to be Logged In to leave a comment.