Dot se Shop ’n redding vir Huis Silwerjare

DOT se Shop is onlangs onder groot belangstelling en met groot sukses op die terrein van die huis vir bejaardes, Huis Silwerjare op Somerset-Oos geopen.


DOT se Shop is onlangs onder groot belangstelling en met groot sukses op die terrein van die huis vir bejaardes, Huis Silwerjare op Somerset-Oos geopen.

Dit was markdag onder die bome en die gemeenskap het die koue trotseer en warm toegewoel hulle ondersteuning gegee. Die kafee wat tee en koffie en verversings be-dien het, is druk besoek en so ook die tafels waar verskeie verkopers hul ware ten toon gestel het.

Hierdie markdag en die opening van Dot se Shop in die middel van die winter sou nie gebeur het as dit nie vir een vrou se durf en entoesiasme was nie. Toe Dorothea Slabbert op die beheerraad van Huis Silwejare gekies is, het sy rondgekyk om te sien hoe sy ’n bydrae kan lewer. Só broei ’n ou stoorkamer met bokse ou klere en huisgoed in haar kop en uiteindelik begin ’n idee vorm aanneem.

Stadig maar seker groei dit en saam met Abraham du Randt, ’n inwoner van die tehuis, begin hulle met die stoorkamer en die bokse en so word Dot se Shop – wat “wit olifante” verkoop – ’n werklikheid. ’n Werklikheid wat uitstekende nuus vir Huis Silwerjare is omdat al die fondse wat deur die winkeltjie gegenereer word direk in Silwerjare se beursie beland.

Somerset-Oos is ’n klein dorpie en be-voorreg om ’n ouetehuis te hê wat baie jare gelede deur die ACVV bewerkstellig is. Die grootste uitdaging waarmee die bestuur deesdae te kampe het en terselfdertyd ook ’n groot kopseer, is genoegsame fondse.

Ten spyte van fondsinsamelings en skenkings sukkel hulle om kop bo water te hou. Die aanvraag na verblyf in die tehuis is groot en gesog, veral omdat daar ook ’n afdeling vir verswaktes is.

Rika Scheun, bestuurder van Silwerjare, sê hulle is baie dankbaar vir dié inisiatief waarby hulle al baat gevind het nog voordat die verf in die winkel behoorlik droog was.

Sy vertel Abraham du Randt was so entoesiasties dat hy sommer items begin verkoop het soos die bokse uitgepak is.

Dot se winkeltjie is klein en netjies, die voorraad aanloklik uitgestal en die tweedehandse klere skoon gewas en gestryk, pryk op hangers. Soos met enige geleent-heid waar die tehuis by betrokke is, word die hartsnare van Somerset-Oos se gemeenskap onmiddellik geroer. Dus, toe die nuus van die winkel versprei, is talle bokse met “wit olifante” dadelik afgelaai en kommer oor te min voorraad vir die onmiddellike toekoms is daar gewis nie.

Volgens Dorothea was die opening ’n groot sukes en het hulle alreeds ’n verrassende en baie welkome bedrag opgelewer.

Sy is opgewonde oor die toekoms van die winkel en bedank graag almal, maar veral Abraham, vir hul bydrae – hoe gering ookal.

Dot se shop is op Dinsdae en Vrydae vanaf 09:30 tot 11:30 oop.

You need to be Logged In to leave a comment.