Dr. Schoeman terug in Somerset-Oos ná 13 jaar in Engeland

NÁ dertien jaar in Engeland het dr. Johan Schoeman, tandarts, sy pad teruggevind Somerset-Oos toe.


NÁ dertien jaar in Engeland het dr. Johan Schoeman, tandarts, sy pad teruggevind Somerset-Oos toe.

Die Mid-Karoo Express het meer by hom oor sy tyd oorsee gaan uitvind.

Hy vertel dat toe die geleentheid hom voordoen om vir drie maande in Engeland te gaan praktiseer, hy dit met albei hande aangegryp het.

Hy het in 2003 by ’n tandheelkundegroep, wat uit drie verskillende praktyke bestaan, aangesluit. Ses Suid-Afrikaners het daar saamgewerk en dit het bygedra tot baie aangename werksomstandighede.

Hy het gou sy voete in die klein dorpie, Barton le Clay gevind waar hy dan ook vir hom ’n huis gekoop het. Die dorpie is ongeveer 40 minute per trein uit Londen en sy praktyk was stapafstand van sy woonplek.

“Die NHS (National Health Services) funksioneer baie goed. Daar is geen mediese skemas nie en pasiënte is verantwoordelik vir deel van die fooi terwyl die res deur die rege-ring betaal word.

“Oor die algemeen is die Engelse mense baie gesteld op hul tandheelkundige gesondheid en sodoende word die tandartse baie besig gehou. Tandheelkunde in Engeland en Suid-Afrika stem in baie opsigte ooreen,” het hy gesê.

Volgens hom word dieselfde materiaal en tegnieke gebruik.

Hy was baie gelukkig en bevoorreg om heelwat kursusse by te woon – onder meer een in België waar die hooftema die insit van wit stopsels was.

Hy vind dat die Engelse oor die algemeen vriendelike mense is, maar dat vreemdelinge nie maklik na hul huise genooi word nie. Besoeke en kuiers vind meestal in die baie “pubs” plaas waarvoor die Britse Eilande so bekend is. Die Suid-Afrikaners het maar onder mekaar gekuier en saam rugbywedstryde bygewoon.

Twickenham se stadion staan vir hom uit vir die wonderlike gees en lojaliteit wat as gevolg van die magtige dreuning van die toe-skouers se samesang heers. “Hierdie atmosfeer spoel dan ná die wedstryde oor tot in die volgepakte treine wat die ondersteuners huis toe vervoer.”

Wat gaan hy van Engeland mis?

“Die feit dat jy enige groente en vrugte, binne en buite seisoen, selfs op die kleinste dorpie te koop sal kry. Ook die sentrale verhitting wat die winters met bitter koue en sneeu draaglik maak. Ook die feit dat die hele Europa aan jou voete lê wat reisgeleenthede betref.”

Hiervan het hy baie aangepak. Hy het onder meer Griekeland, Turkye, Skotland, Ierland, Spanje en Switserland besoek. Elke land en plek het sy eie bekoring, maar die Griekse eiland Santorini se kultuur, boustyl en mooiste sonsondergange sal hom altyd bybly.

Wat was die moeilikste in Engeland?

“Die gemis na familie en vriende was groot.” Hy voel dat Suid-Afrikaners nie werklik besef hoe gelukkig hulle is wanneer hul sulke hegte familie- en vriendskapsbande het nie.

Het die tyd in die buiteland hom verander?

“Beslis!” Die lewenservaring wat hy daar opgedoen het, sal hy vir niks verruil nie. As mens het hy heelwat gegroei en gesien hoe maklik mense by vreemde omstandighede kan aanpas.

Die Engeland-ervaring was genotvol en leersaam, maar hy erken ruiterlik dat hy bly is om terug in sy tuisdorp te wees.

Hy praktiseer tans weer en geniet die mense en sy werk baie.

Hy erken dat hy in ’n nuwe fase van sy lewe is en dat hy poog om elke dag en oomblik te geniet soveel as wat hy kan.

You need to be Logged In to leave a comment.