Drie Lombard-geslagte weer agter kospotte

CRADOCK se drie geslagte van die Lombard-huiskokke sal weer vanjaar die lepels laat klink by die Karoo Kosfees, wat vanaf 27 tot 30 April op Cradock plaasvind.


CRADOCK se drie geslagte van die Lombard-huiskokke sal weer vanjaar die lepels laat klink by die Karoo Kosfees, wat vanaf 27 tot 30 April op Cradock plaasvind.

Lani en Louzel Lombard, wat ook te siene was in die eerste seisoen van My Kitchen Rules South Africa, sal saam met Ouma Delene Lombard hul ‘3-Generations Lombard Ladies Lamb Workshop’ op Sondag, 29 April, in True Living aanbied.

Volgens die Lombard dames sal die werksessie vele egte Karookos-tegnieke met lamsvleis behandel, asook ’n paar geheime Lombard-familieresepte verklap.

Lani, Louzel en Ouma Delene doen al vir die afgelope drie jaar hul 3 Generations Lombard Ladies-werksessies, waarvan die lamsvleisbehandeling die mees gesogte is.

Die Lombards se liefde vir kos-maak is alombekend in Cradock, waar Lani ’n koffiewinkel besit.

Die familie se pad met kos strek egter veel verder terug as net die drie generasies wat vandag nog die droom uitleef. “Ons is slegs die persone wat al die kennis en wysheid van die geslagte voor ons wil ten toon stel en vier,” het Lani en Louzel gesê tydens die TV-reeks My Kitchen Rules South Africa.

“Die Karoo-mense het almal ’n baie spesiale verhouding met kos, en ons is trots om daaraan deel te hê,” sê Lani.

Vandag is die Lombards trots op die familiegeskiedenis en die familie se begrip van kos.

“Niks kan gemors word nie,” sê Louzel. “Die fokus van ons kos-maak en ook van die lamsvleis-werksessies is om volhoubaar en respekvol met gesogte Karoo-produkte te werk.”– MEDEWERKER

You need to be Logged In to leave a comment.