AS dit nie in die somerreëvalgebiede van Suid-Afrika, waar die kritieke droogte nou op sy felste is, binnekort goed reën nie sal die droogtekrisis katastrofiese afmetings aanneem, sê Guillau du Toit, nasionale voositter van die SA wolkwe-kersvereniging.
Daar is tans geen reserwes op die veld in hierdie gebiede nie en sal die winter sonder vooraf reën absoluut kritiek wees vir oorlewing.
“Boere is met hul rug teen die muur wat betref kos vir hul diere en om finansieel nog ’n winter te oorleef. Indien dit reën sal dit groot verligting bring, maar goeie opvolgreëns oor ’n lang tyd sal nodig wees om die herstel van die veld te bevorder.
“Boere doen altyd eerder ten koste van hulself alles in hul vermoë om diere aan die lewe te hou. ’n Groter bekommernis vir my is die mate waarin boere finansieel gedreineer is en afhangende van hul ouderdom, hoe haalbaar die herstel daarvan is sonder om iets kosbaar prys te gee.
“Dit is baie moeilik om in Suid-Afrika weer van vooraf te begin.”
Hy het in ’n onderhoud aan Mid-Karoo Express gesê groot gedeeltes van die Oos-Kaap, Noord-Kaap en Wes-Kaap is steeds kritiek droog, en vee word steeds verminder, maar hoewel baie voer geskenk word, maak vervoerkos-tes dit baie moeilik om dit in die verafgeleë plekke te kry.
“Die boere is egter ontsettend dankbaar vir elke skenking, dit maak nie saak hoe klein, of hoe groot die skenkings is nie. Skaapgetalle neem egter steeds af en wanneer goeie reën oral verligting bring sal skaapkuddes weer opgebou word.
“Wanneer die kuddes weer opgebou word sal dit egter vir ’n ruk ’n skaarste aan boerskape, en bemarkingsvee tot gevolg hê. Vrektes het intussen egter in ’n mate afgeneem.
“Die vrektes van verlede seisoen was hoofsaaklik as gevolg van frats koues en reën wat die boere en die kleinvee onkant betrap het. ’n Mens probeer altyd om sulke situasies te vermy en te bestuur, maar partykeer is die natuurelemente net te wispelturig en sterk.
“Dit word geraam dat ten minste 30 000 stuks kleinvee in hierdie koue tydperke gevrek het,” aldus Du Toit.
Volgens hom sal die produksie van wol in die seisoen tans met minstens 10% daal, wat grootliks aan die voortslepende droogte te wyte sal wees. Die gehalte van die wol bly egter steeds goed, hoewel lig in gewig, en met korter groei.
“Produsente poog voortdurend om goeie gehalte en goeie klassering te behou, ten spyte van die heersende droogtetoestande,” het hy gesê.