Duiwe behaal goeie pryse tydens veiling

VERLEDE Saterdag was daar groot belangstelling onder duiweboere vanoor die hele wêreld toe 40 duiwe wat vanjaar se Sun City Miljoen-dollar wedvlug voltooi het, op Cradock onder die hamer gekom het.


VERLEDE Saterdag was daar groot belangstelling onder duiweboere vanoor die hele wêreld toe 40 duiwe wat vanjaar se Sun City Miljoen-dollar wedvlug voltooi het, op Cradock onder die hamer gekom het.

Piet Joubert het as afslaer opgetree.

Daar was ongeveer 30 voornemende kopers van Oos-Londen, Port Elizabeth en al die omliggende dorpe teenwoordig in die JW Motors vertoonlokaal, maar telefone het gegons soos aanbiedinge oor die lyne ingekom het. Die hoogste prys van die dag was R30 000 vir ’n duif van Amerika wat deur Alan Yaga van Suid-Afrika gekoop is. Yaga het nog ’n pragtige wit Amerikaanse duif, Mealy Deal, vir R12 000 gekoop.

Cradock se klubkampioen, Lourens Fourie van Golden Valley, het sy eie duif, Golden Valley 4, vir R17 000 teruggekoop nadat dié duif by die interklub-kompetisie op Sun City reeds R15 000 vir sy eienaar gewen het.

Raisin, een van die duiwe uit Duitsland, gaan nou tuis wees op Suid-Afrikaanse bodem nadat Willie Steenkamp van Oos-Londen hom vir R22 000 gekoop het.

’n Aantal duiwe is vir tussen R2 000 en R3 000 stuk verkoop, maar oor die algemeen was die pryse goed en is die verkopers baie tevrede. Die totale omset vir die dag was R128 350 waarvan Cradock se klub 15% verdien.

Daar is op die oomblik baie belangstelling in vliegduiwe in die omgewing en baie nuwe telers van nabygeleë dorpe is besig om by Cradock-vliegduifklub aan te sluit. Die oefenprogram begin op 15 Mei en die eerste wedvlug, vanaf Beaufort Wes, sal op 30 Junie plaasvind.

Die plaaslike klub wat in 1899 gestig is, het nog altyd net op die suidelike roete gevlieg, maar daar is nou sprake van meeding op ’n noordelike roete wanneer duiwe vir vyf vlugte vanaf Bloemfontein sal vlieg.

Op 25 Augustus gaan ’n nasionale vlug vanaf Kuruman plaasvind waaraan duiwe landwyd gaan deelneem. Na verneem word kan telers elk een duif vir hierdie kompetisie inskryf.

Cradock-vliegduifklub is een van die oudste klubs in die land. Die bestuur het onge-veer drie jaar gelede die Cradock-gemeenskapsduiwehok gekoop om fondse vir die gemeenskap te genereer. Vanjaar het Zonempi Soga, ’n plaaslike sakeman, ’n klompie duiwe aangekoop en by die klub aangesluit. Sy mikpunt is om ’n vliegduifprojek vir jong seuns van Cradock op die been te bring.

You need to be Logged In to leave a comment.