Dwarrelwind bring groot skade

’n FRATS dwarrelwind wat ’n skuur op ’n plaas buite Cradock se dak afgeruk en minstens drie huise op die dorp beskadig het, het verlede Donderdag hier voorgekom.


’n FRATS dwarrelwind wat ’n skuur op ’n plaas buite Cradock se dak afgeruk en minstens drie huise op die dorp beskadig het, het verlede Donderdag hier voorgekom.

“Ons het gesit en televisie kyk toe die wind skielik die dak bokant ons koppe weggevat het,” het Alet Nel van Piet My Vroulaan gesê. Die afdak, televisiekamer en kombuis se dakke is afgeruk, bo-oor een buurman se huis gewaai en gedeeltelik in ’n ander buurman, Ignis Goosen, se agterplaas neergegooi. Die res van die dakke het in die straat anderkant Goosen se huis gelê.

Goosen sê hy was besig om teen ongeveer 15:40 sy swembad skoon te maak, toe hy opgekyk het om ’n helikopter in die lug te soek toe hy die dreuning hoor.

Die volgende oomblik het die wind hom fisies van sy voete gelig en kon hy net-net betyds die huis bereik voor die stukke van Nel se dak, wat ongeveer 40 meter deur die lug getrek het, in sy agterplaas beland het. Party stukke het oor sy huis gevlieg en in die straat beland.

’n Muur tussen Goosen en sy naaste buurman, André Pretorius, se huis is stukkend ge-val, ’n boom is ontwortel en Goosen se dak is gedeeltelik opgelig, maar het nie afgewaai nie.

Erge skade is in ’n kort tydjie aangerig aan vensters wat gebreek het en matte en plafonne wat deurweek is van water.

Volgens kenners was die geskatte dwarrel omtrent 20 meter breed en word dit deur kenners ’n werwelstorm (twister) genoem.

Daar het die betrokke middag geen wind in die res van Cradock gewaai nie en ander inwoners was nie eers bewus van die skade wat aangerig is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.