DIE Hoërskool Cradock (CHS) se eerste krieketspan het op sy tuisveld die botoon gevoer en met 112 lopies teen die Hoërskool Middelburg gewen.

CHS het die loot gewen, besluit om eerste te kolf en 197/4 in sy toegelate 40 beurte aangeteken. Lea Rasmeni met 55 en Ryan Gower met 45 was weer in ’n voortreflike 99-lopie vennootskap betrokke.

Siphe Nofukuka en Niël Sabbert met 22 en 16 onoorwonne lopies onderskeidelik was in ’n vennootskap van 40 lopies om die vierde paaltjie betrokke. Reinhardt Pelser, Henru Geldenhuys, Brendon James en Adrian Joubert het een paaltjie elk vir Middelburg geneem.

Die Hoërskool Cradock se boulers sukkel aanvanklik met hul lyn, maar boul Middelburg vir 85 uit. Ryan Gowar oes vyf paaltjies in vir net 15 lopies vir ’n goeie veelsydige vertoning. Raymond Tom neem 2/13 en Siphe Nofukuka, Kanya Papu en Latisio Nomatye neem een paaltjie elk. – MEDEWERKER

You need to be Logged In to leave a comment.